Project Jonah se slim opleiding met rubberwalvis

Nieu-Seeland een van die hoogste walvisstrandingsyfers ter wêreld, met ongeveer 300 diere wat jaarliks hier strand. (Foto: Brodie Weeding/AP)

ʼn Rubberwalvis van sowat twee ton kry sowaar lewe in die ysige waters van ʼn windverwaaide Nieu-Seelandse strand, veral wanneer ʼn groep voornemende reddingswerkers stoei om dié vis in ʼn harnas te kry.

Luidens ʼn berig op AFP het Nieu-Seeland een van die hoogste walvisstrandingsyfers ter wêreld, met ongeveer 300 diere wat jaarliks hier strand. Dit is ook nie ongewoon dat groepe van tussen 20 en 50 loodswalvisse uitspoel nie.

Te danke aan die Nieu-Seelandse walvisreddingsorganisasie Project Jonah, word hierdie probleem getakel deur die opleiding van reddingswerkers.

Project Jonah is in 1974 gestig en word as ʼn wêreldleier in walvisredding beskou. Die organisasie help om Nieu-Seeland se bewaringsdepartement en polisie op te lei met die nodige vaardighede wanneer strandings plaasvind.

ʼn Tamaai loodswalvisreplika, tesame met ʼn kleiner vis van sowat 200 kg, word as’t ware deur die vrywilligers gered deur hulle na dieper waters te lei. Die proses verg konsentrasie en boonop moet ʼn mens uiters versigtig wees.

“Hou die spuitgat skoon… Jy is te naby aan die stert, een stertswaai kan jou en die walvis ernstig beseer,” skree ʼn instrukteur terwyl die Wellingtonse reën voortduur.

Ten spyte van die ongemak wat vrywilligers tydens die opleiding moet deurmaak, bly die groep entoesiasties terwyl ʼn vyf meter lange loodswalvisreplika suksesvol op ʼn mat tussen twee opblaaspontons neergesit word.

Die getalle kan egter dramaties toeneem wanneer ʼn skool visse strand. In 2017 was daar 700 loodswalvisse in ʼn massastranding betrokke, berig AFP.

“Daar gaan altyd strandings wees — daar was een Maandag, daar sal waarskynlik een volgende week wees,” het Louisa Hawkes, Project Jonah se kommunikasiebestuurder, aan sowat 30 leerling-walvismedici tydens ʼn kursus in Wellington gesê.

Die meeste massastrandings in Nieu-Seeland is deur loodswalvisse wat op sagte, skuins strande uitspoel. Dit is verwarrend omdat die walvisse dan dink hulle is in oop waters. Die gevolg is dat ander skole ook strand omdat hulle op die walvis wat in nood verkeer, se noodkrete reageer.

Volgens Hawkes is strandings ongelooflik emosioneel. “As ʼn walvis nie meer dryf nie, kan dit ʼn geweldige invloed op jou hê, veral as jy ʼn band met die vis opgebou het. Jy moet veerkragtig wees en sekermaak jy het die nodige vaardighede om dit wat gaan gebeur, te hanteer.”

Dit is nie heeltemal duidelik waarom walvisse strand nie, maar Hawkes meen dit gebeur soms wanneer ou, siek of beseerde diere aan wal swem en ander skole hulle volg.

Project Jonah het ʼn netwerk van 4 000 vrywilligers wat tydens massastrandings ontplooi kan word en die meeste van hierdie reddingswerkers is gewone mense wat basiese opleiding ondergaan het om seesoogdiermedici te word.

Leonora Hoke, ʼn Wellingtonse onderwyseres, is self ʼn seeswemmer en verduidelik dat sy die kursus voltooi het om sodoende haar kennis op te skerp. “Ek het al baie dooie walvisse teëgekom – ek wil weet wat om te doen wanneer ek so ʼn situasie teëkom.”

Hawkes, ʼn voormalige jeugwerker wat al nege jaar by Project Jonah betrokke is, sê dit is die moeite werd om ʼn gestrande walvis in die verte te sien wegswem.

“Dit is een van die lonendste ervarings wat jou lewe vir altyd sal verryk  – dit is iets wat jou diep sal raak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.