Prokureur reël, oorleef eie sluipmoord

Alex Murdaugh en sy gesin. (Foto: Facebook)

Die vooraanstaande Amerikaanse prokureur wat vroeër vandeesmaand in die kop geskiet is en wonderbaarlik oorleef het, het dié moordpoging op sy lewe self gereël.

Alex Murdaugh van Suid-Carolina het ’n man betaal om hom te skiet sodat sy seun ’n lewensversekeringsvoordeel van $10 miljoen (sowat R146 miljoen) kon ontvang.

Murdaugh sal waarskynlik nou strafregtelik vervolg word.

Murdaugh het op 4 September gemaak asof hy ’n band van sy motor langs die pad ruil toe ’n vragmotor verby hom gery het. Die bestuurder van die vragmotor het omgedraai, weer verby Murdaugh gery en iemand in die vragmotor het hom geskiet.

Maroela Media het vroeër berig Murdaugh se vrou, Maggie, en hul 22-jarige seun, Paul, is drie maande voor die moordpoging op sy eie lewe in hul gesinshuis doodgeskiet. Murdaugh kon nie die verlies verwerk nie en het intussen aan opioïede verslaaf geraak.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Murdaugh ’n dag voor sy beplande moord uit sy prokureursfirma gedwing is omdat hy na bewering kliëntegeld verduister het. Hy het glo baie van die geld gebruik om die hoogs verslawende pynstiller Oxycodone te koop, het een van sy prokureurs, Dick Harpootlian, aan die NBC News Today Show gesê.

Murdaugh het egter die dag van die skietery doelbewus geen pynstillers gedrink nie in ’n poging om sy verslawing te oorkom. Harpootlian sê sy kliënt het aan ’n massiewe depressie gely en besluit om ’n einde aan alles te bring.

Murdaugh het egter verkeerdelik geglo dat sy lewensversekeringspolisvoordeel nie aan sy ouer seun, Buster, uitbetaal sou word indien hy selfmoord pleeg nie, sê Harpootlian.

“’Hy het gereël dat die man hom skiet.” Die man was ’n voormalige kliënt van Murdaugh wat voorheen opioïede aan hom verskaf het.

Curtis Smith (61) is intussen in hegtenis geneem en aangekla van selfmoordbystand, aanranding en versekeringsbedrog weens die skietery.

Harpootlian sê Murdaugh verwag om ook self vervolg te word. Harpootlian hou egter vol dat sy kliënt niks met die dood van sy vrou en seun te doen gehad het nie.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op Maggie en Paul nie.

Daar is aanvanklik bespiegel dat Murdaugh geteiken is weens sy en sy familie se lang geskiedenis as wetstoepassers. Voor hom het sy pa en oupa ook as staatsaanklaers gewerk.

Daar is ook bespiegelinge rakende Paul omdat hy ten tyde van sy dood verhoorafwagtend was. Paul is aangekla in verband met ’n bootongeluk wat ’n 19-jarige vrou se lewe geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Onnie ·

Wat ‘n bizarre tragiese verhaal. Hoe erg moet dit nou alles wees vir die seun wat agterbly? Die pa het tog nie regtig gedink dat ‘n klomp erfgeld sy seun se geluk sou koop na sy hele gesin tragies gesterf het nie? In plaas daarvan om dinge beter te maak, het die pa nou als net vererger. Baie hartseer.

Misky ·

Shame, daai arme man het eintlik hulp nodig en dit moes ‘n vreeslike besluit gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.