Proses om Mugabe te verwyder begin glo vandag

Robert Mugabe (Foto: Wikimedia Commons)

Die mosie om pres. Robert Mugabe van Zimbabwe in ʼn staat van beskuldiging te plaas sal na verwagting vandag in dié land se parlement ter tafel gelê word.

Dit kom nadat Zanu-PF Maandag Mugabe amptelik in kennis gestel het van die party se besluit om hom te skors. Simon Khaya Moyo, Zanu-PF se sekretaris, het in ʼn verklaring gesê Mugabe is formeel in kennis gestel van die besluit wat Zanu-PF se sentrale komitee Sondag geneem het om Mugabe uit sy posisie as president en eerste sekretaris van die regerende party te skors.

“Die party het ook die hoofsweep opdrag gegee om voort te gaan met die proses om comrade Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas aangesien die party nie die verwagte bevestiging van sy bedanking van die speaker van die parlement ontvang het nie. Zanu-PF se koukus in die parlement is tans besig om die besluit van die sentrale komitee uit te voer om die staat van beskuldiging-proses aan die gang te sit,” het Moyo gesê.

Sodra die senaat en die nasionale vergadering tydens ʼn gesamentlike sitting besluit het dat Mugabe uit sy posisie verwyder moet word, sal hy volgens die grondwet onmiddellik van sy amp onthef word. Zanu-PF se sentrale komitee het ook reeds Emmerson Mnangagwa as die party se kandidaat vir president verklaar, so daar hoef nie tot die party se kongres in Desember gewag te word voordat ʼn benoeming gemaak kan word nie.

Die regswaghond Veritas het gesê indien die parlement besluit dat Mugabe van sy amp onthef moet word, sal Phelekezela Mphoko, die enigste adjunkpresident, oorneem as waarnemende president. Volgens Veritas sal die feit dat Mphoko moontlik in aanhouding of buite die land is, nie saak maak nie. Die aanneem van sy ampsposisie sal outomaties wees, sonder dat hy ʼn ampseed hoef af te lê.

“As Mphoko besluit om te bedank of in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, sal hy nie in die amp as president aangestel word nie. Selfs al sou Mphoko nie besluit om te bedank of word hy nie in ʼn staat van beskuldiging geplaas nie, kan sy termyn as waarnemende president van korte duur wees. Dit sal afhang hoe vinnig Zanu-PF die speaker in kennis kan stel dat hulle Mnangagwa as Mugabe se opvolger benoem het,” het Veritas gesê.

“Die nuwe president sal die amp beklee tot die volgende algemene verkiesing, wat nie later as 23 Augustus 2018 gehou moet word nie. Sodra ʼn nuwe president die amp beklee – wanneer hy amptelik ingesweer is – sal al die huidige ministers en adjunkministers uit hul amp verwyder word in terme van artikel 108(1)(c) van die grondwet. Hulle sal wel in aanmerking kom om weer aangestel te word wanneer die nuwe president sy eie kabinet aanstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

jan_alleman ·

ek wonder wanneer begin suid afrika met die proses om zuma te verwyder
die 25 nov optog na die unie gebou kan dalk n goeie begin wees

Nog nuus ·

Oud-president Kenneth Kaunda van Zambië (ookal 93) is gestuur om sy hardekop eweknie ‘n bietjie verstand te gaan (probeer) inpomp.

Johann Marx ·

Jan, daar sal nooit ‘n “proses” begin word om JZ te verwyder nie. SA het ‘n “verteenwoordigende demokrasie”, in plaas van ‘n “deelnemende demokrasie”. AL demokratiese voorreg wat ek en jy het is om elke 4 jaar vir ‘n party te stem, wat ons van daar af “verteenwoordig”, en basies kan maak soos hulle wil….vir die verloop van hulle termyn. As SA ‘n “deelnemende demokrasie” gehad het, sou elke groot besluit in landsbelang eers deur referendum goedgekeur moes word deur die landsburgers…..soos in ander “deelnemende demokrasiëe” in byvoorbeeld Europa. Omdat hier nie so ‘n proses in plek is nie, sal jz se “proses” nooit begin nie, want hy word beskerm deur sy party, wat in plek gesit is deur die meerderheid………sodat hulle basies kan maak soos hulle wil.

Sammy ·

Ongelooflik dat Zimbabwe so sukkel om van die fossiel ontslae te raak. NEEM HOM IN HEGTENIS. Hy is die een wat nie geskroom het om enige MDC lid of selfs die leier Morgan TSvangirai in die tronk te stop nie. .. hoekom word hy so versigtig hanteer? GOOI hom in die tronk dan sal hy ‘n ander deuntjie sing. Maar nee die ZANU PF het mos ‘n sagteplekkie vir hulle HELD, wat hulle ‘bevry’ het .. Bevry het in ‘n 93% werkloosheidsyfer in en ‘n GEEN waarde Zim dollar . steeds hang hulle aan sy lippe. Jammer maar ek het geen simpatie met die Zimbabwiers nie . Julle is eenvoudig.

Johan ·

Die ou ballie gaan veg om daar te bly….dink jy hy gaan net wegloop…..please….hier kom nog n ding…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.