Prostituut wen seksueleteistering-saak

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Prostituut van Nieu-Seeland het ʼn saak van seksuele teistering teen ʼn bordeeleienaar gewen.

Die Hersieningstribunaal vir Menseregte het ʼn skadevergoedingseis van NZ$25 000 (ongeveer R225 000) aan dié 22-jarige vrou toegeken.

Die bordeeleienaar het glo aan die vrou gesê hy kan doen wat hy wil met die vroue wat vir hom werk. Die ouer man het die vrou oor ʼn tydperk van drie maande afgekraak en vreesbevange gelaat totdat sy onveilig en depressief gevoel het en toe alkohol begin misbruik het, het die tribunaal Saterdag in sy uitslag bekend gemaak.

“Sekswerkers is net so geregtig op beskerming teen seksuele teistering as diegene wat enige ander pos beklee,” aldus die uitspraak. “Die feit dat die persoon ʼn sekswerker is, beteken nie dat die persoon seksueel geteister mag word nie, veral nie deur die bestuurder of werkgewer by die bordeel nie.”

Catherine Healy, nasionale koördineerder vir die Nieu-Seelandse Prostitute Kollektief, het aan Fairfax News gesê die besluit dui daarop dat dié land ʼn wêreldleier word in menseregte vir prostitute. Prostitusie is in 2003 in die land gewettig. “Dit is ʼn noemenswaardige beslissing, want dit sou nooit gebeur het as prostitusie nog onwettig was nie,” het Healy gesê. “Dit is ʼn bewys van die reuseverandering wat die bedryf ondergaan het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.