Prys van vliegtuigkaartjie volgens jou gewig bepaal

Die prys van vliegtuigkaartjies van ‘n klein lugredery in Samoa sal voortaan nie per sitplek wees nie, maar per kilogram van die persoon wat die sitplek wil gebruik.

Somoa Air beplan om sy internasionale vlugte se vliegtuigkaartjies te verkoop op grond van die gewig van die passasier en hul bagasie. Afhangend van die vlug sal elke kilogram tussen 93sent (ongeveer R8.37) tot $1.06 (ongeveer R9.54) kos, berig SowetanLIVE.

Die gemiddelde Amerikaanse man wat dus 88kg weeg met ‘n 16kg sak, sal ongeveer R870 betaal vir ‘n enkelkaartjie tussen Apia, Samoa, en Pago Pago in Amerikaanse Samoa. Mededingers vra gemiddeld tussen R1 170 en R1 260 vir ‘n retoerkaartjie vir dié roetes.

Die lugredery, wat in Junie begin het, het reeds dié model sedert November gebruik vir plaaslike vlugte, maar die Amerikaanse departement van vervoer het in Januarie die lugredery se internasionale vlugte tusen Amerikaanse Samoa en Samoa goedgekeur.

“Vliegtuie kan slegs ‘n bepaalde gewig dra en daar moet vir daardie gewig betaal word,” het Chris Langton, hoof uitvoerende beampte van die lugredery, Dinsdag gesê. “Daar is geen ander manier nie.” Langton, wat self ‘n vlieënier is, het glo dié beginsel aan ander lugrederye voorgestel toe hy vir hulle gewerk het, maar hulle het gevoel gewig is té ‘n sensitiewe saak om aan te spreek. “Dit was nog altyd die regverdigste manier, maar die bedryf het nog altyd probeer om vierkantige pennetjies in ronde gaatjies te druk.”

Samoa Air is die eerste lugredery om dié nuwe prysstruktuur in te stel. ‘n 12 of 13-jarige kind wat klein is en min weeg hoef dus nie dieselfde bedrag as ‘n volwassene te betaal nie.

Die lugredery het glo gemengde reaksies op sy Facebookblad en webwerf ontvang, maar nie een passasier het tot dusver nog geweier om geweeg te word nie. Gratis vliegtuigkaartjies word soms weggegee aan gereelde passasiers wat gewig verloor het, en gesondheidsbeamptes in Amerikaanse Samoa het hulle dadelik gekontak. “Hulle wil deel wees van die bewusmaking rondom gewigsverlies,” het Langton bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.