Prysgeld van Wêreldatletiek vir Olimpiese gouemedaljewenners

Argieffoto (Foto: Geoffroy van der Hasselt/AFP)

Wêreldatletiek sal by vanjaar se Olimpiese Spele in Parys die heel eerste internasionale federasie word om prysgeld aan gouemedaljewenners toe te ken.

Die gouemedaljewenners by elk van die 48 atletiekbyeenkomste by vanjaar se Spele sal $50 000 (sowat R935 000) ontvang.

Elke individuele Olimpiese kampioen sal $50 000 ontvang. Aflosspanne sal dieselfde bedrag ontvang. Die bedrag sal egter onder spanlede verdeel word.

Sebastian Coe, president van Wêreldatletiek, het Woensdag gesê Olimpiese wenners van silwer- en bronsmedaljes sal eers by die 2028‑ Olimpiese Spele in Los Angeles prysgeld kan ontvang.

“Ons is nou in ’n posisie om gouemedaljeprestasies vir atlete in Parys te finansier, met ’n verbintenis om al drie kategorieë medaljewenners by die 2028‑ Olimpiese Spele te beloon,” het Coe aan verslaggewers gesê.

Coe sê die bekendstelling van prysgeld vir Olimpiese gouemedaljewenners is ’n deurslaggewende oomblik vir Wêreldatletiek en atletiek as geheel. Coe meen dit onderstreep die federasie se verbintenis tot die bemagtiging van atlete en gee erkenning aan die belangrike rol wat hulle speel in die sukses van enige Olimpiese Spele.

Wêreldatletiek het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) eers vandag, kort voor die aankondiging, van sy besluit ingelig ten spyte daarvan dat die totale prysgeld van $2,4 miljoen afkomstig sal wees van die komitee se inkomste-aandeeltoekenning wat Wêreldatletiek elke vier jaar ontvang.

Volgens Coe was daar geen bespreking vooraf nie.

“Dit is ’n saak vir die sport. Die een siening wat die IOK konsekwent huldig, is die voorrang wat internasionale federasies geniet om hul eie toekoms te skep.”

Coe het verder gesê die verskuiwing om atlete finansieel te beloon vir Olimpiese titels, is ʼn weerspieëling van “ʼn veranderende wêreld” .

“Ons bevind ons op ’n heel ander planeet as toe ek meegeding het, dit is dus uiters belangrik dat die sport erkenning aan daardie landskapsverandering gee.”

Die Olimpiese Spele in Parys vind van 26 Julie tot 11 Augustus plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

En so eensklaps verander die gees van die spele. Hierdie besluit is glad nie goed deurdink nie. Hoe lank voordat regerings kostes van atlete wil verhaal?

Peach ·

@koos10, indien verkeerd bewys kan word, is die “wet van transvaal” volgens my kennis nog nooit herroep nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.