ʼn Klein Psalm-boekie van 1640, wat moontlik die eerste boek is wat in Amerika gedruk is, het Dinsdag bykans $14.2 miljoen (sowat R142 miljoen) op ʼn veiling gehaal.
Na verwagting sou die Bay Psalm-boekie, wat in Manhattan deur Sotheby’s-afslaers verkoop is, tussen $15 miljoen en $30 miljoen op die veiling haal.
Dié boekie het ʼn nuwe rekord opgestel vir ʼn gedrukte boek. ʼn Eksemplaar van John James Audubon se Birds of America was die vorige rekordhouer toe dit teen $11.5 miljoen in 2010 verkoop is.
Slegs 11 eksemplare van die Bay Psalm-boekie bestaan nog. Die boekie wat deur Sotheby’s verkoop is, was een van twee wat aan Boston se Old South Church behoort het.
“Dit is geweldige nuus,” het Nancy Taylor, senior leraar van die kerk, gesê. “Dit is lewensveranderend vir die bedieninge wat ons kan doen.”
David Rubenstein, Amerikaanse sakeman en filantroop, het die boekie oor die telefoon gekoop. Hy beplan om dit aan biblioteke regoor die land te leen.
Die kerk het aanvanklik vyf eksemplare van die 15 cm x 12.5 cm-boekie besit. Een van die boekies is nou by die Library of Congress, een by Yale-universiteit, en een by Brown-universiteit.
Die boekie is deur die Puriteinse leiers van die Massachusetts Bay Colony in Cambridge, Massachusetts gedruk, skaars 20 jaar nadat die Pelgrims by Plymouth geland het. Altesaam 1 700 eksemplare is gedruk.
Dit is glo ʼn geloofwaardige vertaling van die oorspronklike Hebreeuse psalms na Engels.
Die rekord vir enige boek behoort aan Leonardo da Vinci se Codex Hammer, ʼn persoonlike notaboek met wetenskaplike notas en diagramme. Dié boek het in 1994 $30.8 miljoen (meer as R300 miljoen) by ʼn veiling van Christie’s behaal.
Daai gemeente wat die opbregs kry gaan nou lekker sing!