Publiek kan nou óók in ruimte vaar

Die bemanningslede. (Foto: SpaceX/Twitter)

SpaceX sal vier mense wat nie ruimtevaarders is nie, Woensdag die ruimte instuur op ʼn drie dae lange vlug om die aarde.

Dié kommersiële ruimtevaart is deur Jared Isaacman, ʼn Amerikaanse miljardêr, vlieënier en uitvoerende hoof van die betalingsverwerkingsmaatskappy Shift4 Payment, aangevra.

Die presiese prys wat die 38-jarige miljardêr aan SpaceX betaal het om die vlug te verwesenlik, is nie bekend nie, maar beloop glo miljoene dollar.

Drie lede van die publiek sal saam met Isaacman, wat die sendingbevelvoerder is, in die kapsule wees. Die vlug sal egter heeltemal outonoom bestuur word.

Volgens SpaceX is die bemanningslede gekies om elk ʼn pilaar van die ruimtevaart te verteenwoordig.

Hayley Arceneaux (29) sal “hoop” verteenwoordig aangesien sy as kind beenkanker oorleef het. Sy werk as ʼn doktersassistent in Memphis en sal die eerste persoon wees wat met ʼn prostese ruimte toe gaan.

Chris Sembroski (42), ʼn veteraan van die Amerikaanse lugmag wat nou in die lugvaartbedryf werk, sal “vrygewigheid” verteenwoordig.

ʼn 51-jarige professor in aardwetenskap wat in 2009 die kans misgeloop het om ʼn ruimtevaarder vir NASA te word, is die vierde bemanningslid. Sian Proctor sal “voorspoed” verteenwoordig en sal die vierde Afro-Amerikaanse vrou wees wat ruimte toe gaan.

Die bemanning sal Woensdag om 20:00 (02:00 Donderdag Suid-Afrikaanse tyd) by NASA se Kennedy-ruimtesentrum in Florida gelanseer word.

Hierdie vlug volg kort nadat die miljardêrs Richard Branson en Jeff Bezos, onderskeidelik in die Virgin Galactic- en Blue Origin-vuurpylvliegtuie, in Julie gevlieg het.

SpaceX se Inspiration4-missie sal egter meer omvattend wees as ʼn paar minute in die hemelruim. Dié Crew Dragon-kapsule sal na verwagting verder as die wentelbaan van die Internasionale Ruimtestasie vlieg.

“Die risiko is nie nul nie. Die onervare bemanningslede gaan in ʼn vuurpyl wees wat teen 28 500 km per uur om die aarde beweeg. In hierdie soort omgewing is daar beslis risiko’s,” het Isaacman gesê.

Die bemanning het reeds maande lange opleiding, wat ervare ruimtevaarders ook ondergaan, ontvang.

Gedurende die drie dae sal Isaacman, Arceneaux, Sembroski en Proctor se slaap, hartklop, bloedtoevoer en kognitiewe vermoëns ontleed word. Toetse sal ook voor en na afloop van die vlug uitgevoer word om die uitwerking van die vlug op hul liggame te bestudeer.

Volgens SpaceX is die doel van die missie om die hemelruim in die toekoms meer toeganklik vir die publiek te maak.

“In die hele geskiedenis het net minder as 600 mense al die hemelruim bereik, daarom is ons trots om deel van ʼn vlug te wees wat dit sal verander,” het Isaacman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Snowball ·

As al die geld wat hierin gaan kon gebruik word vir hoop, vrygewigheid en voorspoed op moeder aarde was dit ‘n beter belegging. Begin sommer by rehabilitasie van die reënwoude en dieetbeperkings vir sommige wat bv vlermuise eet – die buitenste ruim is donker, sonder suurstof en lewe; belê liewer in die habitat wat ons het.

Lanfear ·

Nee wat, stem glad nie met jou saam nie. Daardie geld is ‘n druppel in die emmer as dit kom by moeder aarde red. Dit is ons leefstyle en ons weiering wereld-wyd om te verander wat die grootste probleem is. Geld alleen gaan dit definitief nie regmaak nie.

Dit is in elk geval ONS redding, nie die aarde nie. Die planeet sal nog bestaan na ons onself uitgewis het.

En dit is juis hoekom ons na opsies moet kyk verder as ons planeet, as ons die menslike spesie wil laat voort bestaan. Nie net ons eie vernietiging van ons aarde habitat nie, maar ook as iets soos van die ruimte af kom en ons tref.

Die mens is nog altyd lief vir verkenning, die eerste rede hoekom ons hier in Afrika se suidpunt sit. En mense vergeet geriefs onthalwe van al die tegnologie wat ontwerp is agv ruimte vaart.

Net ‘n laaste punt/vraag, hoe die hel wil jy vir mense se wat hulle mag en nie mag eet nie? So dit is reg om ‘n hoender te eet, maar nie ‘n vlermuis nie?

Snowball ·

Lanfear wanneer die mens klaar met die aarde gemors het, die see vervuil en spesies vernietig het weens bygelowe of siek rituele – wanneer die mensdom in ellende gedompel is ter wille van ontwilkeling en tegnologie sal geen ruimtevaartontwikkeling ons redding wees nie, ons gaan hier tot niet saam met die aarde wat ons so vertrap. Dalk kan opvoeding die mens so ver kry om so met diere om te gaan dat ons bewaar in plaas van uitwis, (dit sluit in om bv te weet vlermuise is pesdraers en hoort nie in ‘n opdienbak nie), as ons leer skoonmaak in plaas van besoedel sodat ons besef dat dit wat die aarde bied meer is as wat die buitenste ruimte bied. Die KOSTE van Groen energie word steeds gebruik as verskoning om te besoedel.
‘n Vloot ruimteskepe op pad na ‘infinity and beyond’ met ‘n paar aardse sterfelinge op soek na ‘n ‘nuwe’ tuiste vir die voortbestaan van die menslike spesie klink maar vir my soos ‘n rolprentdraaiboek. Onthou net om te koets net vir die ‘Black holes’…

Lanfear ·

Dit is wonderlik! Ek sou self wou gaan as dit nie was vir geld was nie.

MakersMark ·

Die is ‘n spul snert – dis “commercial space travel”. So vinnige flip met ‘n relatiewe eenvoudige ruimteskip en terug aarde toe. Kan net sowel blomme gaan kyk in Namakwaland dis mooier en goedkoper.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.