Poemas-kaptein, nog twee geskors oor twiets

Pablo Matera. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Onder Pablo Matera se leiding het Argentinië vir die eerste keer in 30 probeerslae met die All Blacks afgereken toe hulle die Nieu-Seelanders met 25 -15 in Sydney ore aangesit het.

Ja, Nicolás Sánchez het al sy span se punte aangeteken, maar Matera verdien ook lof vir die wyse waarop hy sy span op die veld aangevoer het.

Maar waar die Poemas-kaptein toe op die kruin van die golf gery het, is hy nou van sy kapteinskap gestroop en saam met Guido Petti (slot) en Santiago Socino (haker) deur die Argentynse rugby-unie geskors.

Die rede: Twitter-inskrywings wat tussen 2011 en 2013 gemaak is.

Daar word berig dat die 27-jarige Matera, wat sedertdien die inskrywings verwyder het, destyds onder meer geskryf het dat hy met sy voertuig oor swart mense sal ry, terwyl hy ook negatiewe kommentaar oor die inwoners van Paraguay en Bolivia gelewer het.

“Ons verwerp ten sterkste die diskriminerende en xenofobiese kommentaar wat deur lede van die Poemas-groep op sosiale media gemaak is,” het die Argentynse rugby-unie in ’n verklaring gesê.

Op sy beurt het Petti glo na sy huishulp as ’n primaat verwys, terwyl hy gesê het dat swart mense selfone en beursies steel.

Matera het intussen om verskoning vir sy destydse optrede op Instagram gemaak.

“Ek vra om verskoning vir almal wat aanstoot geneem het deur die barbaarse dinge wat ek geskryf het. In daardie oomblik het ek nooit gedink dat ek die Argentynse rugbykaptein sou word nie en ek moet nou verantwoording doen vir wat ek nege jaar gelede gesê het,” het Matera gesê.

Petti het in ’n verklaring gesê dat die inskrywings nie die persoon verteenwoordig wat hy vandag is nie.

Die Twitter-inskrywings het weer hul verskyning gemaak nadat die Poemas kritiek verduur het omdat die span nie genoeg hulde aan Diego Maradona tydens hul afgelope wedstryd teen die All Blacks gebring het nie.

Volgens die Argentynse rugby-unie is dit onaanvaarbaar dat enigiemand wat hulself skuldig maak aan sulke kommentaar vir die nasionale span uitdraf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Die laat mens dine hoe sulke dinge jou as n sekere ras kan inhaal en alles kos, maar as jy as meerderheid en die grootste rassis is en die kom op die doeke na 9 jaar, dan sal daar net gese word, maar hy het jammer gese en alles is verby en vergete. (Alles in die wereld is dubbel. Donald Trump was reg met baie ding, en verkeerd met min dinge).

Leana ·

Waarvoor nou goed uit sy verlede nou gaan ophaal, net omdat hy nou iets reggekry het nou moet almal gaan krap want bewaar tog dat die son oor iemand ander skyn as die eie ek.

Frans ·

Amper seker die Aussies het gou iets gaan uitkrap om van sekere teenstanders ontslae te raak.

Robert ·

Presies, suurgat verloorders, hulle of die All Blacks of aanhangers.

Thom ·

As ons land net halfpad so suksesvol as die Aussies was sou ek nooit ophou met juig nie .

Therese ·

Daar is géén sprake van enige Aussie aandeel in hierdie belaglike storie nie.
Om dit te beweer, is moedswillige snert.
Soos dié berig aandui, het die Pumas nie ‘n groot genoeg ophef van die ontslape Maradona gemaak nie, vandaar die kleinlike opgrawe van ou koeie deur hul eie mense.
Die mensdom verstom telkens met nuwe dwaashede.

Frans ·

Dink jy nie die Aussies se kanse aansienlik verbeter met die spelers se weglating.

Therese ·

Dis natuurlik ‘n erg verswakte Argentynse span a.g.v. hierdie waansin.
In my ideale wêreld sou sportmanne meer ruggraat toon, en sou béide spanne weier om verder deel te neem aan hierdie klug.
Bietjie onregverdig om die Aussies verdag te maak, terwyl dit juis húlle was wat die meeste omgekrap was omdat die Wêreldkampioene nie kans gesien het om deel te neem nie.

Robert ·

Iemand het baie tyd gehad om te gaan krap waar dit nie jeuk nie.

Elize ·

Andries volgens Wikipedia is ‘n primaat “Primate (Primates) of opperdiere is in orde van soogdiere waaraan alle ape, halfape en ook mense behoort”.
Gaan Google dit gerus.

Niklaas ·

As mens sulke stellings maak in sosiale media , kan dit 15 jaar later steeds opgediep word en teen jou gebruik word. Daar is weer ‘n les geleer hieruit en ek wonder of Pablo ooit weer daardie wit en ligblou trui sal kan aantrek ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.