R10 miljoen verwag vir Napoleon se hoed

Napoleon se punthoed wat in September onder die hamer kom (Foto: Sotheby’s/Instagram)

ʼn Hoed wat Napoleon in 1807 tydens sy militêre veldtog teen Pruisiese en Russiese magte gedra het, sal na verwagting €600 000 (meer as R10 miljoen) haal wanneer dit in September onder die hamer kom.

Die kenmerkende swart vilthoed met twee punte is een van 19 wat geskiedkundiges uitgeken het as dié wat deur die keiser gedra is, het die afslaer Sotheby’s Donderdag gesê. ʼn Veiling van die memorabilia word gehou ter herdenking van die 200 jaar sedert Napoleon se afsterwe.

Die vorige punthoed wat onder die hamer gekom het, wat na bewering afgevat is as ʼn oorlogstrofee van die toneel van Napoleon se finale nederlaag, die Slag van Waterloo, het in 2018 tydens ʼn veiling €350 000 gehaal.

Die hoed wat nou onder die hamer kom is in 1814 aangeskaf deur die Skotse politikus, Sir Michael Shaw Stewart, en die hoed was sedertdien in die familie se besit. Napoleon het dit na bewering gedra tydens sy oorwinnings teen Pruisiese en Russiese soldate in 1807 en toe hy die Vredesverdrag van Tilsit onderteken het met die Russiese tsaar Alexander I.

ʼn Punthoed van Napoleon is in 2014 verkoop vir ʼn rekordbedrag van €1,9 miljoen aan die eienaar van die Suid-Koreaanse kos- en landboureus Harim as deel van die versameling wat deur Monaco se koninklike familie verkoop is.

Weens die groot belangstelling in memorabilia is ʼn brose goue lourierblaar van die kroon wat gemaak is vir sy kroning in 1804 vir €625 000 in 2017 verkoop. Juweliersware wat sy aangenome dogter gedra het, is in Mei vir €1,4 miljoen verkoop.

Napoleon Bonaparte is een van die bekendste en maklik herkenbare Franse figure – veral uitgebeeld in sy manel en hoed wat skuins sit. Hy is ook een van die mees verdelende karakters in die land se geskiedenis.

Die Franse president Emmanuel Macron het in Mei herdenkings gelei vir Napoleon, 200 jaar ná sy afsterwe. Sommige kritici het egter versoek dat Macron en die Franse regering eerder die herdenking boikot omdat Napoleon “ʼn oorlogstoker was wat slawerny in 1802 weer in Franse kolonies hervestig het”.

Macron het egter hulde betoon aan Napoleon se groot bydrae tot die Franse staat – die moderne burokrasie-, skool- en regstelsels het sy stempel. Hy het egter bygevoeg Napoleon se besluit om slawerny terug te bring, “was ʼn fout”.

Napoléon Bonaparte (15 Augustus 1769 – 5 Mei 1821) was ‘n generaal en regeerder van Frankryk. Hy word beskou as een van die grootste bevelvoerders in die geskiedenis, en sy oorloë, veldtogte en militêre strategie word wêreldwyd aan militêre skole bestudeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Maak nie veel sin nie, want ‘n Meksikaanse Sombrero, het ‘n wye rand en hou die son makliker van iemand se gesig af. En, dit kan gekoop word vir ‘n paar dollar. Diè hoed van Napoleon sal seker gekoop word deur iemand in ‘n land met minder sonskyn dae.

Pieter ·

Napoleon sou nie die onlangse opstande geduld het nie. Hy het destyds kanonne in Parys se strate gebruik om sy republiek te beskerm. Besonderse man teen Engelse imperialisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.