R107 miljoen vergoeding ná hy in winkel gly en val

Argieffoto (Foto: paulbr75, Pixabay)

ʼn Man van Alabama in Amerika wat sê hy het gegly en sy heup gebreek toe hy ʼn waatlemoen by ʼn Walmart-winkel wou koop, is vergoeding van $7,5 miljoen (ongeveer R107,8 miljoen) toegeken in ʼn hofsaak.

Henry Walker het Woensdag die hofsaak gewen nadat ʼn jurie in Phenix, Alabama, die vergoeding aan hom toegeken het. Walker het die winkel gedagvaar omdat hy glo gestruikel het toe sy voet aan ʼn pallet onder die waatlemoene vasgehaak het. Die voorval het reeds op 25 Junie 2015 plaasgevind. Al.com berig Walker, in daardie stadium 59 jaar oud, het geval toe hy omgedraai het na sy inkopiewaentjie. Een van sy prokureurs het gesê Walker kon ná die besering ook nie meer basketbal speel nie, iets wat hy glo drie keer per week gedoen het. Hy moet nou ook van ʼn loopraam gebruik maak.

Charles Gower, een van Walker se prokureurs, het aan die Columbus Ledger-Enquirer gesê Walmart moes die pallet bedek het om seker te maak dat ʼn klant se voet nie daaraan kan vashaak nie.

Walmart het volgehou die uitstalling was nie gevaarlik nie en enige nalatigheid is Walker se skuld. “Walmart stal om die waarheid te sê steeds waatlemoene op dié manier uit soos dit op 25 Junie 2015 gedoen is,” het die maatskappy Woensdag in die hofstukke gesê. “Hierdie uitstallings kom van die verspreider en word net so afgelewer en uitgestal.”

Randy Hargrove, woordvoerder van Walmart, het Donderdag gesê die maatskappy is teleurgesteld in die uitspraak. “Ons waardeer die jurie se diens, maar ons glo die skadevergoeding is buitensporig in hierdie geval. Ons is van plan om appèl aan te teken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Juffie ·

Ag jy maak my dag. Ek het nou soooooo lekker gelag! Baie dankie vir spitsvondigheid.

A Mac ·

Ek het al in winkels geval maar nooit geweet ek kan myself ‘n miljoener maak deur te eis nie. Het nie eers geweet ek kan eis nie.

Peet Schabort ·

Ek versamel name/vanne van mense wat verband hou met hulle beroepe, sport of enige iets wat betrekking het op hul doen en late. Henry WALKER is bygevoeg omdat hy nie gekyk het waar hy LOOP!!
Daar in Amerika is prokureurs wat spesialiseer in hierdie ding van ‘I sue you”. Steek jy ‘n straat te voet- of met jou fiets oor by ‘n voetoorgang dan hou daardie Amerikaner sommer ‘myle vêr’ van jou stil en wys jy kan maar oorgaan. Dit geld ook in parkeerterreine. Die indruk word ook geskep dat jy jou tyd moet gebruik en nie haastig moet wees want sê nou maar net jy swik jou enkel en blameer die motoris waarvoor jy kwansuis geskrik het?
Dis nou net mooi die teenoorgestelde as by ons waar daar eintlik gewag word totdat jy in die pad is en daar dan met mening op jou afgepyl word!
Nee-wat, mnr. Walker sou hier by ons uitgelag gewees het, selfs waar hy by ‘n wettige voetoorgang wou oorsteek.

Aitoggie ·

Hulle verkoop nog waatlemoene en stal dit nogsteeds uit op die pallete. Duidelik nog nie n les geleer uit dit nie. Eish

Aitoggie ·

Hulle verkoop nog waatlemoene en stal dit nogsteeds uit op pallette. Duidelik nog nie hul les geleer nie. Eish

Ian ·

R35 nouedae vir n kwart waatlemoen in Woolies. Kan ook n regsgeding begin daaroor…

Naas Vermaak ·

Meneer Walker kan met daai geldjies nou vir klasse gaan om ‘n beter “walker” te word!

Adam ·

Net jammer hy moes seerkry om Johnny Walker te kan koop. In SA steel jy sommer die R107m.

Pik ·

As jy in SA val dagvaar winkel jou vir die waatlemoen wat stukkend is??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.