Raaisel oor tier in strate

Die inwoners was uit die veld geslaan oor die tier wat in die buurt ronddwaal (Foto: Skermgreep)

Polisiebeamptes in Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas is op soek na ʼn Bengaalse tier wat Sondag los in die strate rondgeloop en inwoners laat kopkrap het.

Inwoners het gesien hoe ʼn man, wat glo die tier se eienaar en ook ʼn voortvlugtige in ʼn moordsaak is, die tier in sy motor gelaai en weggery het. Die man, Victor Hugo Cuevas (26), is Maandag in hegtenis geneem op aanklagte van moord, maar die tier is skoonveld.

Volgens gerugte is die tier in die huis wat Cuevas gehuur het, aangehou. Sy regsverteenwoordiger het egter aangevoer dat die tier nie aan hom behoort nie.

Die inwoners was uit die veld geslaan oor die tier wat in die buurt ronddwaal.

“Ek kon nie my oë glo nie,” het ʼn inwoner, José Ramos, gesê. Hy het ʼn foto van die tier geneem en dit op ʼn aanlyn buurtgroep gesit om die inwoners te waarsku. Hy het ook die polisie na die buurt ontbied.

Ramos sê hy was veral bang dat die tier die kinders, wat graag in die buurt rondbeweeg, sou leed aandoen.

’n Polisieman, Wes Manion, het die foto van die tier op die buurtgroep gesien en na die toneel gejaag. Hy het sy vuurwapen op die kat gerig net voordat Cuevas met hom weggejaag het.

“Die laaste ding wat ek wou doen, was om die tier te skiet,” het Manion gesê. “Die dier het nie aggressief gelyk nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Maar as die tier nie aggressief gelyk het nie, hoekom het jy jou vuurwapen op die dier gerig. Ek hoop hulle vind die tier veilig en neem hom na ‘n veilige plek. Hy het nie gevra om met die man in ‘n kar rond te ry, of om die Cuevas se troeteldier te wees nie. Die arme dier is seker maar afhanklik van die man vir kos en skuiling.

Moedeloos

Dalk beter as ervare mense die dier begin soek en hom verdoof sodat hy na veilige bewaring gebring kan word.

AmY

Ek is ook nie agressief nie. Tot ek honger word…

Danie

Die laaste ding..
Maar hy rig sy vuurwapen.