Raaisel oor voëls wat uit lug val

Skermgreep uit die video. (Foto: Twitter)

Sosialemediagebruikers krap kop nadat beeldmateriaal die lig gesien het wat wys hoe honderde voëls in die noorde van Mexiko skielik uit die lug val en op die grond bly lê.

Daar kan in die beeldmateriaal gesien word hoe ’n swart wolk van geelkopmerels skielik op ’n woonbuurt neersak. Sommige van die voëls vlieg dan weer weg terwyl sommige morsdood op die sypaadjie en pad bly lê.

Die voorval is glo verlede week op veiligheidskameras in die Mexikaanse staat Chihuahua vasgelê.

Geelkopmerels broei in die VSA en Kanada en migreer suid vir die winter na Mexiko.

Plaaslike owerhede kon nie dadelik ʼn oorsaak vir die voëls se skielike dood bepaal nie.

Volgens die plaaslike koerant El Heraldo de Chihuahua vermoed ʼn veearts die voëls het óf giftige dampe van ʼn verwarmer ingeasem óf is dalk deur nabygeleë kraglyne geskok. ’n Kenner meen egter die swerm trekvoëls is heel waarskynlik “afgejaag” deur ʼn roofvoël wat ʼn vangs wou maak en het toe te hard met die aarde kennis gemaak.

Dr. Richard Broughton, ʼn ekoloog van die Britse sentrum vir ekologie en hidrologie, het gesê hoewel hy nie ʼn roofvoël in die beeldmateriaal kon sien nie, hy 99% seker is dat dit deur ʼn roofvoël veroorsaak is.

Broughton sê ’n roofdier kon die voëls skerp laat draai en grond toe gedryf het. Die voëls wat hoër op in die lug was het toe moontlik die voëls wat laer gevlieg het gedwing om die geboue of die grond te tref wat tot hul dood gelei het.

“Dit lyk asof ʼn roofvoël soos ʼn valk ʼn swerm gejaag het, soos hulle met spreeus doen, en hulle die grond getref het toe die swerm te laag gedwing is… Jy kan sien dat hulle aan die begin soos ʼn golf optree, asof hulle van bo af gespoel word.”

Dr. Alexander Lees, ʼn senior lektor in bewaringsbiologie aan die Manchester- metropolitaanse universiteit, stem saam met dié hipotese.

“Uit wat ek uit een video en sonder enige toksikologiese rapporte kan aflei, sou ek steeds sê die mees waarskynlike oorsaak is dat die swerm probeer het om ʼn roofvoël te ontduik en toe die grond getref het.”

Lees meen botsings met infrastruktuur is baie algemeen. “In ’n diggepakte swerm volg die voëls die bewegings van die voël voor, eerder as om hul wyer omgewing te interpreteer, so dit is nie ongewoon dat so iets af en toe gebeur nie.”

Bronne: The Guardian, USA Today, NBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

M.P. ·

Dis moontlik krag drade want mens kan sekondes na die swerm verby is sien hoe daar nog n voël op die dak dood te lande kom.

Misky ·

Nee heng, so baie teen die grond vasvlieg en selfs paar sekondes na die eerste slag, val steeds paar grond toe. Baie bisar!!!

Herman ·

Raar maar waar. Die video hoort op Ripley. As dit nie op video was nie sal ek dit nie geglo het nie.

Haan ·

Nie noodwendig betrokke by hierdie voorval nie, maar lesers kan ter wille van interessantheid bietjie gaan oplees oor HAARP. Die radio-ruim is al lankal ook in n wapen omskep.

Treurwilger ·

Dankie, Haan.
Gaan beslis hieroor Google.
Die radiogolwe wat net vermeerder kan onmoontlik ons lewens en natuurlike omgewing onaangeraak laat.
Selfs die handige mikrogolfoond in die huis laat my wonder wat van al die voorskrifte geword het waarmee die goed aanvanklik uitgereik is.

Robert ·

Die Dr is korrek, het self gesien hoe swaeltjies vasvlieg in ‘n brug toe ‘n valk hulle bestorm het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.