Rafiki se stroper gevonnis

Argieffoto van Rafiki, ʼn silwerrug en leier van die Nkuringo-gorillagroep in Uganda se Bwindi- nasionale park (Foto: @ugwildlife/Twitter)

Een van die persone, wat verantwoordelik was vir die dood van Rafiki, Uganda se bekendste silwerrug gorilla, is gevonnis.

Byamukama Felix het skuld beken op aanklag dat hy onwettig ʼn bewaringsgebied betree en ʼn duiker, ʼn gorilla en ʼn bosvark doodgemaak het. Hy is in die Kabale-magistraatshof gevonnis tot 11 jaar tronkstraf.

Die Ugandese natuurowerheid (UWA) het gesê Felix het ook skuld beken op aanklag dat hy in besit was van duiker- en bosvarkvleis.

Die drie ander beskuldigdes in die saak het skuld ontken. Hulle bly in Kisoro-gevangenis.

Maroela Media het vroeër berig Felix is op 4 Junie deur die UWA in hegtenis geneem ná ʼn nadoodse ondersoek op Rafiki se karkas onthul het hy het gevrek weens ʼn skerp voorwerp wat sy bors links bo getref en sy inwendige organe beseer het. UWA se ondersoek het beamptes na Felix se huis in die Kisoro-distrik, suid van die Bwindi- ondeurdringbare nasionale park (BINP), naby die land se grens met Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo, gelei. Beamptes het by sy huis beslag gelê op ʼn spies, strikke van tou en draad en bosvarkvleis.

UWA berig Felix het beken hy het Rafiki uit selfverdediging doodgemaak ná die silwerrug hom begin jaag het toe hy saam met Bampabenda Evarist onwettig diere in die BINP gejag het. Felix het gesê Mubangizai Yunasi en Museveni Valence het saam met hulle aan die stropery deelgeneem en het die bosvarkvleis met hulle gedeel.

Rafiki is aanvanklik op 1 Junie as vermis aangemeld en sy karkas is op 2 Junie gevind. Hy was die leier van die Nkuringo-gorillagroep wat in 1997 suksesvol in die BINP gevestig is. Die groep het, in die tyd van Rafiki se afsterwe, 17 lede gehad, insluitend ʼn silwerrug (volwasse mannetjie), drie swartrûe (jonger, ondergeskikte mannetjies), agt volwasse wyfies, twee jong gorillas en drie babas.

Daar was aanvanklik kommer dat Rafiki se afsterwe die groep sou destabiliseer, maar die UWA het op 2 Julie op Twitter bevestig die groep kon weer stabiliseer toe ʼn dominante swartrug die leierskapsposisie ingeneem het. “Nkuringo-groep het gestabiliseer met 11 individue onder die leierskap van Rwamutwe, die dominante swartrug. Tabu is besig om die posisie van tweede in beheer oor te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

christo ·

Geregtigheid geskied gelukkig vinniger in Uganda as in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.