Ramp sny Tonga van wêreld af

Dié foto is deur die Nieu-Seelandse weermag uit ’n P-3K2 Orion-vliegtuig geneem en wys ‘n gebied in Tonga wat met vulkaniese as bedek is. (Foto: AFP)

Tonga, ʼn eilandgroep in die Stille Oseaan, is so te sê van die res van die wêreld afgesny ná ʼn massiewe vulkaniese uitbarsting Saterdag in die Stille Oseaan en ʼn tsunami wat op dié uitbarsting gevolg het.

Maroela Media het vroeër berig dat die uitbarsting groot skade in Nuku’alofa, dié land se hoofstad, aangerig het en so kragtig was dat dit regoor die wêreld aangeteken is. Dit het ook tsunami-golwe op die eiland sowel as Japan en tot in die VSA veroorsaak.

Luidens internasionale berigte is twee sterftes intussen bevestig terwyl daar nog baie onduidelikheid oor die omvang van die ramp heers. Inligting in dié verband word tans met satellietfoonverbindings, waarnemingsvlugte en satellietbeelde ingewin. Die werklike omvang van die skade is egter nog nie duidelik nie aangesien groot dele van die land deur ʼn aswolk bedek word.

Nuwe foto’s het Dinsdag aan die lig gebring dat die Hunga-Tonga-Hunga-Ha’apai-vulkaan nou byna heeltemal uit die oog verdwyn het, met dele van die eilandnasie wat met ʼn kombers van grys as en stof bedek is. Slegs twee relatief klein vulkaniese eilande was ná die uitbarsting nog bo seevlak sigbaar.

“Wat ons bo die water gesien het en wat nou vernietig is, was net die punt van ’n vulkaan wat op die rand van die massiewe onderwatervulkaan gegroei het,” het Heather Handley, vulkanoloog van die Monash-universiteit, gesê.

Tsunami sleur vrou mee

Dié satelietfoto deur Maxar Technologies wys hoe rook en as vrygestel word sowat ’n week voor die Hunga-Tonga-Hunga-Ha’apai-vulkaniese uitbarsting.

Owerhede het intussen aangedui dat een van die twee oorledenes die 50-jarige Angela Glover is. Glover, ʼn Britse burger, se liggaam is ontdek nadat sy deur ʼn vloedgolf meegesleur is. Glover het ʼn liefdadigheidsorganisasie vir diere bestuur.

Haar broer, Nick Eleini, het aan die nuusblad The Guardian gesê dat sy suster saam met haar honde meegesleur is. Haar man, James, het volgens Eleini oorleef nadat hy lank aan ʼn boom vasgeklou het.

Geen besonderhede oor die ander persoon se dood is bekendgemaak nie.

Intussen sukkel familielede en vriende om met hul geliefdes op Tonga kontak te maak aangesien ʼn ondersese kabel tydens die ramp beskadig is wat kommunikasie belemmer. Onder dié is die Tongaanse Olimpiese atleet Pita Taufatofua.

Taufatofua het Maandag uit Brisbane in Australië aan AFP gesê hy bid vir nuus van sy pa aangesien hy nog nie van hom gehoor het sedert die tsunami die eiland getref het nie.

Sy pa het glo kort voor die ramp na Tonga se hoofeiland, Tongatapu, waar die gesin ʼn waterfronthuis het, gereis.

“Hy is pas as goewerneur van Ha’Apai aangestel, maar moes na Tongatapu vir die opening van die parlement terugkeer,” sê Taufatofua, wat die wêreld se aandag destyds by die opening van die Rio-spele in 2016 getrek toe hy die Tongaanse vlag kaalbors gedra het.  Volgens Taufatofua kon sy pa weens ʼn reuse-aswolk nie na Ha’apai terugkeer nie en was hy besig om die gesin se waterfronthuis op Tongatapu te beveilig toe die tsunami die eiland getref het.  “Ek hoop en bid dit gaan goed met my pa.” Die ondersese vulkaan het as, gas en suurreën so hoog as 30 km die lug ingestuur en oor ʼn groot gedeelte van die Stille Oseaan gestort.

Daar is reeds bevestig dat die ramp uitgebreide skade in verskeie gebiede aangerig het. Geboue is vernietig terwyl skeepsvragte “soos domino’s” by die hawe van die hoofeiland opgestamp is.

Verskeie lande asook die Rooikruis het reeds aangedui dat hulle hulp aan inwoners van die gebied sal verleen. Meer as R3,8 miljoen is ook reeds met ʼn Go Fund-geldinsamelingsveldtog ingevorder wat deur Taufatofua op die been gebring is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hennie

Tonga het geen covid gevalle nie. Hulle gaan sukkel om hulp van NZ en Australië te kry sonder dat die virus ook ingevoer gaan word