Rasse-onluste in Amerika

Polisie op hoë gereedheid in Ferguson, Missouri Foto: Mike Mohundro Kfvs, Facebook

Polisie op hoë gereedheid in Ferguson, Missouri Foto: Mike Mohundro Kfvs, Facebook

Twee mense is Maandag geskiet en gewond en 31 mense is in hegtenis geneem tydens onrus in Ferguson, Missouri, waar ʼn swart tiener vroeër deur ʼn wit polisiebeampte doodgeskiet is.

Kapt. Ron Johnson, woordvoerder van die Missouri-hoofwegpatrollie, het Dinsdagoggend bevestig die polisie het nie op betogers geskiet nie. “Dié wat gewond is, is getref deur betogers,” het hy gesê.

Vier polisiebeamptes is beseer toe voorwerpe, wat in hul rigting gegooi is, hulle getref het.

Die polisie moes van traangas gebruik maak om die skare van ongeveer 200 uit mekaar te dryf. Ferguson is ʼn swart woongebied met hoofsaaklik slegs wit polisiebeamptes.

Die toestand van die beseerdes is nie bekend nie.

Michael Brown (18) was ongewapen toe ʼn wit polisiebeampte hom op 9 Augustus geskiet het. Volgens ʼn patoloog het ʼn koeël Michael getref terwyl sy arms in die lug was of toe sy rug op sy skieter gekeer was. Die patoloog het egter bygevoeg die onafhanklike span wat Michael ondersoek het, kan nie met sekerheid sê hoe hy beseer is nie.

Volgens ʼn nadoodse ondersoek is hy minstens ses keer geskiet, insluitend twee keer in sy kop.

Die polisie het nog nie veel besonderhede oor die voorval bekend gemaak nie en net gesê daar was ʼn struweling en die beampte is beseer en Brown is geskiet. Ooggetuies het egter bevestig die tiener se hande was in die lug toe die beampte verskeie skote gevuur het.

ʼn Jurie sal Woensdag getuienis begin aanhoor om te bepaal of die polisiebeampte, Darren Wilson, vervolg moet word.

Die departement van justisie het reeds sy burgerregte-ondersoek oor die skietery verskerp en 40 FBI-agente het onlangs in die buurt van deur tot deur gegaan om inligting te versamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.