Redakteur gepos oor fop Schumacher-onderhoud

Die voorblad van Die Aktuelle

Die redakteur van die Duitse tydskrif Die Aktuelle is afgedank nadat ʼn artikel geplaas is waarin ’n kunsmatige intelligensie- program gebruik is om vals aanhalings van die sewemalige Formule Een-kampioen Michael Schumacher te genereer.

Die publikasie van die onderhoud vroeër die week het tot groot omstredenheid gelei. Schumacher en sy familie het nog geen media-onderhoude toegestaan oor die renjaer se toestand nadat hy in 2013 ’n ernstige breinbesering opgedoen het in ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe nie.

Schumacher se familie het reeds aangedui hulle beplan regstappe teen die tydskrif.

Bianca Pohlmann, direkteur van die Funke-tydskrifgroep, het die Schumacher-familie Saterdag om verskoning gevra.

“Hierdie artikel was in slegte smaak en misleidend en moes nooit verskyn het nie,” het Pohlmann in ’n verklaring gesê.

“Dit voldoen op geen manier aan die standaarde van joernalistiek wat ons, en ons lesers, van ’n groep soos Funke verwag nie.

“Die hoofredakteur van Die Aktuelle, Anne Hoffmann, wat sedert 2009 in beheer is, is met onmiddellike effek van haar rol onthef.”

Die artikel het aanhalings ingesluit wat aan Schumacher toegeskryf is, onder meer oor sy gesinslewe sedert die ongeluk en sy mediese toestand.

Schumacher is sedert die besering nie in die openbaar gesien nie en min inligting is in die openbaar oor sy toestand bekend.

Berigte dui daarop dat Schumacher geheue-, bewegings- en spraakprobleme het ná die ongeluk.

Schumacher het sewe Formule Een-titels verower en 91 Grand Prix-oorwinnings behaal.

Michael se seun, Mick (24), is ook ’n Formule Een-jaer en is tans ’n reserwejaer by Mercedes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.