Reddingspoging by oorstroomde grot begin

Foto: AP Photo/Sakchai Lalit.

Die reddingspoging om die 12 jong sokkerspelers en hul afrigter uit die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand te red, het begin.

Time.com berig dertien duikers en vyf lede van die Thaise-vloot het die grot vroegoggend binnegegaan. Die seuns sal glo een op ʼn slag uit die grot begelei word.

Narongsak Osatanakorn, hoof van die reddingsoperasie, het gesê die span is 100% gereed. “Daar is ʼn storm op pad en as ons vir die reën wag, gaan die toestande nie so perfek wees soos dit nou is nie.”

Die reddingsoperasie word as ʼn resies teen tyd bestempel.

Osatanakorn het bygevoeg daar wag 13 ambulanse en twee helikopters op verskillende liggings, gereed om die seuns na die hospitaal te vervoer.

Genl. Maj. Chalongchai Chaiyakam, bevelvoerder van die Thaise weermag, het aan verslaggewers gesê twee duikers sal saam met elke seun uitswem. Die eerste seun sal na verwagting binne 11 ure gered word.

Foto: AP Photo/Sakchai Lalit.

Maroela Media het vroeër berig ʼn voormalige lid van die Thai-vloot en vrywilliger, het verlede week gedurende ʼn nagtelike operasie gesterf in ʼn poging om suurstofhouers in die grot te plaas.

Volgens The Guardian is die oorledene as Samarn Kunan (38) geïdentifiseer. Die nuusinstansie berig Kunan het suurstoftenks in die grot geplaas ter voorbereiding van ʼn operasie om die seuns uit die grot te bring toe suurstoftekort hóm getref het.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is sedert 23 Junie in die grot vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel.

Die seuns is tans veilig omdat hulle op ʼn hoër en droë deel diep binne die grot skuiling gevind het. Dié deel is egter kilometers ver van die ingang van die grot en kon slegs deur ervare spesialisduikers met ekstra suurstofvoorraad bereik word.

Owerhede het aanvanklik gesê die seuns verkeer in goeie gesondheid, maar het Donderdag bevestig dat sommige lede van die groep se gesondheid nou agteruitgaan. Twee seuns en die afrigter is met wanvoeding en uitputting gediagnoseer. Dit bemoeilik die moontlikheid dat die seuns self uit die grot uit kan duik, aangesien hulle sterk sal moet wees om die ingewikkelde vyf uur lange duiksessie te oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris Ws ·

Ai ek hou duimvas die reddingsoperasie is ‘n sukses.As iemand wat jare ondergronds gewerk het weet ek hoe angstig daai kinders moet wees.Dis vreesaanjaend om vasgekeer te wees IN STIK DONKERTE vir so’ lank voor hulle gevind was.Nou nog die onderwater duikery . . . ? Dis ERG!Ons gebede is met almal in en om daai grot.

Hannah ·

Chris WS – stem saam jou…
Ons Bid ook vir God Almagtig se teenwoordigheid en dan almal veilig hier uit sal kom

Tollies ·

Ek bid ook dat die storm eers daar moet weg bly en dat al die kinders + span leier en ook

die reddingswerkers almal veilig sal wees en volkome sterk sal word weer agterna.
In Jesus naam Amen

Rupert Ashford ·

3 uit volgens Thai koerant. Wonderlik as dit so is.

Rupert Ashford ·

Plaaslike media berig seun 4 en 5 nou in die derde kamer van waar hulle kan uitloop of uitgedra word. Dankie Jesus…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.