Reddingswerkers ‘in trane’ toe hulle vermiste vrou vind

Amanda Eller (tweede van links) kort nadat sy gevind is. By haar is die reddingswerkers wat haar gevind het, Javier Cantellops (heel links), Troy Jeffrey Helmer en Chris Berquist. (Foto: Troy Jeffrey Helmer via AP)

Drie vrywilliger-reddingswerkers het Maandag vertel hulle het in trane uitgebars toe hulle uiteindelik op Amanda Eller afgekom het wat 17 dae lank in ʼn woud in Hawaii vermis was.

Javier Cantellops, Chris Berquist en Troy Helmers het vandeesweek vertel hoe hulle Eller (35) Vrydag vanuit ʼn helikopter gewaar het naby ʼn waterval in die digte bos. Helmers sê toe hulle die vrou sien, was hy geskok om te dink dat iemand in dié ruie gebied sal gaan stap.

Berquist het op sy beurt aan CBS gesê almal “het gehuil en geskree en gelag” toe hulle Eller uiteindelik bereik. Cantellops het op die Today-program vertel “om my arms om haar te slaan was die wonderlikste oomblik van my lewe”.

Eller, ʼn fisioterapeut en joga-instrukteur, het op 8 Mei in Maui in ʼn woud gaan stap, maar nooit weer teruggekeer nie. ʼn Reusesoektog na haar is van stapel gestuur met haar familie wat selfs ʼn beloning van $50 000 uitgeloof het vir enige inligting wat tot haar veilige terugkeer kan lei.

Toe Eller gevind is, het sy ʼn gebreekte been gehad, ʼn geskeurde spier in haar knie en was vol skrape en kneusplekke. Sy het ook erge sonbrand opgedoen. Sy het aan The Times vertel sy het beplan om net ʼn kort ent te gaan stap. Sy het in ʼn stadium die paadjie verlaat om op ʼn plek te rus en toe sy weer begin stap, het sy verdwaal.

“Ek wou terugstap na waar ek vandaan gekom het. My instink het net vir my gesê my motor is hierdie kant toe en ek moet net aanhou stap tot ek weer daar uitkom.” Sy sê sy het egter net al dieper die woud ingeloop.

Sy het tydens die beproewing by ʼn krans afgeval en só haar been gebreek en ʼn spier geskeur. Maar sy het oorleef deur wilde aarbeie, onbekende plante en selfs motte te eet en haarself met blare te bedek vir hitte. Sy het ook seker gemaak dat sy heeltyd naby ʼn waterbron bly.

Eller het in ʼn Facebook-video uit haar hospitaalbed gesê sy het “gekies om te lewe”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Willem Grobler ·

Wat ‘n storie!! Wat ‘n gelukkige einde – dankie tog…

DV ·

Wys jou waar ‘n wil is, is daar’ n weg. Sterkte met die terugkeer.

GM ·

Bly sy is semi-ongedeerd gevind. Ek hoop sy herstel gou!
Ek is nuuskierig – wie kry nou die beloning? Ek sal met graagte daai bedraggie aanvaar as die reddingswerkers dit nie wil hê nie ;-) ????

Tong innie kies ·

Het McGarret van Five0 gehelp? Hulle kry altyd hulle man (of vrou).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.