Reeds minstens 500 000 vlugtelinge uit Oekraïne

‘n Inwoner van Oekraïne bid vir vrede (Foto: Daniel Leal, AFP)

Meer as 500 000 mense het reeds uit Oekraïne gevlug sedert Rusland vanaf Donderdag aanvalle begin loods het.

Filippo Grandi, hoof van die Verenigde Nasies se vlugtelinge-agentskap UNHCR, het Maandag op Twitter gesê die burgers het na naburige lande gevlug.

Die UNHCR het vroeër aangedui dat hy van voornemens is om tot 4 miljoen vlugtelinge te hanteer indien die situasie sou vererger. Die Europese Unie se kommissaris oor krisisbestuur sê egter die getal kan waarskynlik nader aan 7 miljoen wees.

Pole

Inligting van die UNHCR wys dat meer as 280 000 mense reeds na Pole gevlug het. Pole se grenswagte het Sondag gesê dat 90% van diegene wat opdaag, huisvesting het by vriende of familielede. Ontvangssentrums word ook naby die grens opgerig.

Minstens 1,5 miljoen Oekraïense burgers het reeds in Pole gewoon voor Rusland se aanvalle. Reg oor die land maak mense gereed om akkommodasie, geld, klere en werk vir die immigrante aan te bied.

Roemenië

Die UNHCR sê 32 500 Oekraïense burgers het sedert Donderdag na Roemenië gevlug.

Boekarest het intussen gesê minstens 47 000 Oekraïense burgers het sedert Donderdag in Roemenië aangekom, maar 22 000 het reeds na ander lande vertrek.

Meeste burgers reis deur Siret in die noorde van die land, waar ʼn kamp opgerig is, en ʼn tweede kamp naby Marmatiei.

Roemeniërs het hulle ook na sosiale media gewend om skenkings van kos en klere vir die vlugtelinge te organiseer.

Hongarye

Nagenoeg 85 000 mense het reeds van Oekraïne na Hongarye gevlug, sê die UNHCR. Verskeie grensdorpe, soos Zahony, het openbare geboue beskikbaar gemaak as ontvangssentrums. Gewone inwoners skenk kos en klere, het die ministerie van binnelandse sake gesê.

Moldowa

Minstens 70 000 inwoners van Oekraïne het in Moldowa aangekom, het die land se adjunk- eerste minister Sondag gesê.

Die UNHCR het Maandag gesê meer as 36 000 Oekraïense burgers is in die land, en bygevoeg van die burgers het reeds na ander Europese lande aanbeweeg.

Roland Schilling, hoof van UNHRC in Sentraal-Europa, het die klein landjie geloof vir sy reaksie op ʼn “hartverskeurende situasie”. Hy sê plaaslike inwoners en die regering van Moldowa “is baie indrukwekkend” in die manier hoe hulle die vloei van vlugtelinge hanteer.

Slowakye

Ongeveer 30 000 vlugtelinge het sedert Donderdag in Slowakye aangekom. Die minister van binnelandse sake het aan AFP gesê 6 514 persone het Sondag tussen middernag en 06:00 oor die grens gekom.

Belarus

Meer as 300 mense het die grens van Oekraïne na Belarus oorgesteek.

Ander Europese lande

Die UNHRC het Maandag gesê ongeveer 34 600 mense wat uit Oekraïne na buurlande gevlug het, het reeds na ander Europese lande aanbeweeg. Sowat 160 000 mense is vermoedelik in Oekraïne verplaas. “Verplasing neem toe in Oekraïne, maar die militêre toestand maak dit moeilik om die getalle te bepaal en hulp te verskaf,” het Grandi bygevoeg.

Janez Lenarcic, krisiskommissaris van die EU, het Sondag gesê dit kan moontlik die grootste humanitêre krisis in Europa word “in baie, baie jare” met tot soveel as 7 miljoen wat verplaas is en 18 miljoen wat “deur humanitêre bepalings” geraak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.