Reën, reën en nóg reën vir ooste van Australië

Vloede in Queensland, Australië. (Foto: Twitter)

Vyf mense is dood te midde van swaar reën wat tans oor die ooste van Australië uitsak.

Minstens een persoon word vermis terwyl kitsvloede groot skade aan huise en paaie in die suidooste van die Australiese deelstaat Queensland aanrig. Meer as 1 800 noodoproepe is binne 24 uur in dié gebied ontvang.

Een persoon is dood nadat vloedwater ’n motor met vier nooddienswerkers meegesleur het toe hulle op pad was om ’n gesin uit hul oorstroomde huis te red, sê die rampkoördineerder van die polisiemag, Steve Gollschewski.

“Hul voertuig is deur die vloedwater meegesleur. Drie van ons lede is gered; een het egter gesterf.”

Mark Ryan, minister van nooddienste, sê die vloede is in sommige dele van suidoos-Queensland “die grootste gebeurtenis wat hulle in dekades sal sien.

“En die reën het nog nie opgehou nie…  trouens, daar is sekere dele waar dit toeneem.”

Die stad Gympie in Queensland gaan veral gebuk onder vloedwater met die Maryrivier se watervlakke wat aan’t styg is.

Annastacia Palaszczuk, die premier van Queensland, het gesê die rivier kan tot bo 21 meter by Gympie styg, terwyl die buro vir meteorologie meen dit kan vlakke oorskry wat laas in Februarie 1999 daar gesien is.

’n Ontruimingswaarskuwing sal nou as voorsorgmaatreël uitgereik word.

“As ons dit nie nou doen nie, sal mense geïsoleer en vasgevang raak,” het Palaszczuk gewaarsku.

“Die reënval het in sommige gebiede van Queensland rekords van dekades gelede oorskry,” sê David Grant, ’n senior meteoroloog. Hy verwag dat nog reën Sondag oor die deelstaat sal uitsak.

“Daar gaan ’n verhoogde risiko van gevaarlike en lewensgevaarlike kitsvloede wees, en selfs die potensiaal vir gelokaliseerde grondverskuiwings,” het Grant op ‘n nuuskonferensie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.