Reënboog toe nuus van koningin breek

Kort voor die aankondiging oor die koningin se dood, kon dié reënboog in Londen gesien word. (Foto:verskaf)

Sowat ’n uur voor die nuus gebreek het dat koningin Elizabeth II, die Britse monarg, oorlede is, het ʼn dubbelreënboog deur die wolke gebreek en bokant Buckingham-paleis in Londen verskyn. Dit was die afgelope 70 jaar die koningin se woning.

Groot skares het toe reeds voor die paleis saamgedrom nadat hulle gehoor het dat die 96-jarige monarg onder mediese toesig geplaas is omdat dokters besorg was oor haar gesondheid.

“Die reënboog het ná ’n swaar reënbui verskyn, net voor die nuus van die koningin se dood gebreek het,” vertel ʼn paar Suid-Afrikaners uit Londen aan Maroela Media.

Die reënboog het “figuurlike vertroosting gebring” aan inwoners wat soveel respek en liefde vir hul koningin gehad het.

Sedert die nuus oor die koningin se dood het ʼn “hartseer atmosfeer” oor Engeland neergedaal, vertel Maunette Gildenhuys, ʼn Suid-Afrikaner wat die afgelope vyf en ʼn halwe jaar saam met haar man in Wimbledon woon.

“Gisteraand net ná ons die nuus gekry het, was die strate leeg. Daar was nie ʼn kar of mens in sig nie,” vertel Gildenhuys. “Vanoggend kon ons voel daar is iets in die lug. Só asof die nasie sy asem ophou en steeds in skok is.”

Plakkate soos dié een word tans oral in Londen vertoon. (Foto: Verskaf)

Jana Meyer, wat al die afgelope 22 jaar saam met haar gesin in Essex woon, sê ondanks al die spekulasie oor die koningin se gesondheid, was die nuus oor haar dood steeds ʼn groot skok.

“Dit het almal heeltemal omvergegooi,” sê Meyer.

Duisende mense het sedert Donderdagmiddag voor die paleis byeengekom om hul eer aan die koningin te betuig. Vlae het halfmas gehang en tradisionele rituele is uitgevoer.

Die Gildenhuys-egpaar se werk het Vrydag soos normaal voortgegaan, maar hulle verwag dat hulle volgende week vir ʼn dag of twee nie sal hoef te werk nie weens die koningin se begrafnis. Die land sal nou vir tien dae in rou wees.

Volgens Meyer weet sy van ondernemings wat hul deure Vrydag gesluit het, asook geleenthede wat gekanselleer is weens die koningin se dood.

“Soos ons verstaan is daar ʼn protokol uiteengesit wat dui op spesifieke goed wat vir die volgende tien dae van rou gaan gebeur.”

Meyer sê van die skole het spesiale saalperiodes gehad om eer aan die koningin te toon. Die skole het ook beraders aan leerders beskikbaar gestel indien hulle van dié dienste sou wou gebruik maak.

“Sportwedstryde is ook vir die naweek gekanselleer.”

ʼn Onderwyseres van Suid-Afrika wat in Londen woon, het op voorwaarde van anonimiteit vertel dat hulle een van hul saalperiodes moet wy aan ʼn inligtingsessie oor die koningin en haar lewe. Die onderwysers het ook reeds vir leerders verduidelik wat gaan gebeur noudat sy oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig die staatsbegrafnis sal sowat tien dae ná haar dood by die Westminster-abdy plaasvind. Daar sal deur die loop van die middag ʼn oomblik van stilte vir twee minute gehou word. Dié dag sal ʼn openbare vakansiedag wees.

Optogte sal in Londen en Windsor plaasvind en daar sal ʼn toewydingsdiens in die St. George’s-kapel by die Windsor-kasteel gehou word.

Die koningin sal in die kasteel se King George VI Memorial-kapel begrawe word.

Gildenhuys en Meyer sê die meeste Suid-Afrikaners in Engeland is hartseer oor die koningin se dood omdat hulle soveel respek vir haar gehad het.

“Oud tot jonk was lief vir haar,” sê Meyer.

“Sy was ʼn formidabele vrou. Die hele nasie het opgekyk na haar. Sy het haar lewe gerig aan haar werk, en daarvoor kyk ons op na haar,” sê Gildenhuys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kosie ·

Ons boere was net so hartseer toe haar voorouers die boervrouens en kinders van honger laat doodgaan het in konsentrasiekampe en hulle plase afgebrand het.

Anonymouse ·

Sjoe! Ek is seker daar was ‘n reenboog erens anders ook waar ‘n arm ouma gesterf het want sy kon nie mediese behandeling gekry het nie. Ek begin dink dat Afrikaners dalk ‘n goue beeld van die koningin moet maak en dan kan hulle voor dit gaan bid en huil. Die vrouens in die grafte in die konsentrasiekampe slaap seker baie swaar die afgelope 2 dae.

Jaco ·

Ek wens ek was ook een van dié Suid-Afrikaners wat in die Verenigde Koninkryk bly. Dink net:
GEEN beurtkrag, swak vuil staatshospitale, lae standaard onderwys, swak of geen munisipale dienslewering, hemelhoë misdaad, regstellende aksie. Dit moet paradys wees om daar te bly.

Lourens CFG ·

Daar is geen ander betekenis aan die reënboog behalwe dat dit ‘n teken aan die mensdom is van die Belofte aan ons dat Hy nie weer die wêreld sal verswelg met ‘n stortvloed nie.

Dries ·

Moet ons ook treur oor die Kwien ???
Ek wonder maar net. Ek weet dat sy n statige vrou was maar sukkel om te dink ons moet treur terwyl ons plaasboere vermoor word

Jr ·

Jy het nie die selfde vraag gevra toe mandela dood gegaan het, het jy. As jy nie wil treur so what los die res van ons.

Cherokee ·

Met absolute respek aan mev Wimbledon, ek is verstom oor die belaglikheid van respek vertoning aan die erfgename van ñ oordraaglike koning/koniginstitel wat selfs Suid Afrikaners in bewondering laat. Mev Elizabeth Winderson of so iets het oorgegaan na die Ewigheid en nou word blomme gestrooi vir haar in plaas van vir die Koning van àlle konings.

Blom ·

@Violet, kyk bietjie na programme oor haar. Sy was nie skaam om oor haar geloof in God te praat nie. Sy sit by die Here se voete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.