Assistent-regisseur dalk nalatig in Baldwin-skietvoorval

Die skietvoorval waarby die akteur Alec Baldwin betrokke was, het op die stel van die rolprent “Rust” gebeur. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Dave Halls, die assistentregisseur wat ʼn gelaaide vuurwapen aan die akteur Alec Baldwin gegee het, het erken dat hy nie die wapen en al die patrone voldoende nagegaan het voordat hy dit aan Baldwin oorhandig het nie. ʼn Kinematograaf Halyna Hutchins is kort daarna op die stel van Rust deur Baldwin doodgeskiet.

Dit wil nou voorkom of die vuurwapen met skerp ammunisie gelaai was en Halls versuim het om vooraf seker te maak dat die wapen slegs foppatrone bevat.

Halls het Woensdag in ʼn beëdigde verklaring gesê hy onthou dat hy patrone in die vuurwapen gesien het voordat hy dit aan Baldwin oorhandig het. Sogenaamde foppatrone word dikwels tydens die verfilming van flieks gebruik.

“Ek het geweet ek moes al die patrone nagegaan het, maar ek het nie,” het Halls gesê.

Volgens Halls het hy glo aan Baldwin bevestig dat die wapen veilig is en na bewering die term “cold gun” gebruik om die status van die vuurwapen as veilig aan te dui.

Sheriff Adan Mendoza en ander ondersoekbeamptes het vandeesweek sowat 500 patrone op die stel gekry wat almal ʼn mengsel van loskruit, skerp ammunisie en foppatrone was.

“Ons is besig om vas te stel hoe skerp ammunisie op die stel beland het, want dit moes nie daar gewees het nie,” het Mendoza gesê. “Ons probeer ook vasstel of iemand vooraf daarvan bewus was.”

Halls is glo al vantevore op die stel van Into the Dark afgedank nadat hy veiligheidsprotokolle oor die hantering van wapens verontagsaam het en iemand as gevolg daarvan beseer is.

As die film se wapenhanteerder was Hannah Gutierrez-Reed daarvoor verantwoordelik om die vuurwapens vir die rolprent te verskaf, te beveilig en te verseker dat dit ten alle tye toegesluit is wanneer dit nie gebruik word nie.

Gutierrez-Reed het aan ondersoekbeamptes gesê die vuurwapens was op die dag van die voorval toegesluit, maar nie die ammunisie nie.

Luidens berigte het talle lede van die rolprentspan vantevore al gekla oor lakse veiligheidsprotokolle op die stel, aangesien ʼn vuurwapen minstens twee keer voor Hutchins se dood afgevuur is.

Hoewel dit hoogs onwaarskynlik is dat Baldwin krimineel vir die skietvoorval aangekla sal word, word die moontlikheid nog nie uitgesluit nie. Regskenners meen dat Baldwin en sy mederegisseurs eerder siviele eise te wagte kan wees.

“Ek verwag dat almal gedagvaar gaan word en Baldwin sal definitief ook in enige regsgeding genoem word vanweë sy diep sakke en hoë profiel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

minnie muis ·

hartseer, hy sal tot sy dood toe moet weet hy het iemand doodgeskiet al was dit n ongeluk…

Martie ·

Dit is absoluut skokkend dat iemand se nalatigheid sulke vreeslike nadraaie het!

ES ·

Hoe het jy lewendige ammunisie op ‘n filmstel? Dis mos nou dom…

madels ·

Dis nie so domas iemand dalk doelbewus dit so wou gehad het nie :-(

Belinda ·

ek verstaan net nie hoe word regte wapens gebruik nie, tog is die “props” mos ligter as die regte ding, dalk nog plastiek? Hoe kon hy nie agter kom dat dit n regte geweer is nie?

Ronel ·

En nou sal Alec Baldwin se lewe nooit weer dieselfde wees dmv iemand anders se nalatigheid nie!!

Sandra ·

Maar as Halls al vantevore afgedank is oor nalatigheid, hoekom is hy nou weer vir die fliek aangestel? Gaan my verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.