Regsgeding teen Musk oor Twitter-transaksie

Elon Musk. (Foto: Jim Watson/AFP)

ʼn Aandeelhouer van Twitter het vandeesweek ʼn regsgeding teen die miljardêr Elon Musk aanhangig gemaak oor sy beweerde taktieke wat veroorsaak het dat Twitter se aandeelprys getuimel het.

In die regsgeding word beweer dat Musk doelbewus veroorsaak het dat die sosialemediaplatform se aandele tuimel sodat hy nie met sy bod om die platform te koop hoef voort te gaan nie, of vir ʼn laer prys kon beding.

Die aandeelhouer beweer dat Musk dit gefasiliteer het deur ʼn aantal twiets en stellings wat hy in die openbaar gemaak het om twyfel te saai oor die komende transaksie.

Die hoof van SpaceX en Tesla het beleggers in April verras met sy aankondiging dat hy Twitter wil koop. Hy het ʼn aanbod van $44 miljard gemaak, maar toe later gesê die transaksie word tydelik agterweë gehou hangende vrae oor die sosialemediamaatskappy se raming oor die aantal vals rekeninge, oftewel botte, op die platform. Hierdie aankondiging het die sosialemediareus se aandeelprys laat tuimel.

In die regsgeding, wat Woensdag deur ʼn aandeelhouer aanhangig gemaak is, word aangevoer dat Musk se bewering dat die Twitter-transaksie “tydelik uitgestel” is, strydig is met die koopkontrak.

“Musk het die Twitter-transaksie onderhandel sonder om die nodige omsigtigheid aan die dag te lê wat sulke reuse-transaksies vereis,” het William Heresniak, wat die regsgeding in die Amerikaanse deelstaat Virginia aanhangig gemaak het, gesê.

Die kontrak tussen Musk en die platform sou teen Oktober vanjaar afgehandel gewees het, aangesien slegs die aandeelhouers en reguleerders nog die kontrak moes goedkeur.

In die regsgeding word beweer dat Musk deeglik daarvan bewus was dat sommige Twitter-rekeninge deur sagteware-botte eerder as regte mense beheer word, en dat hy selfs daaroor getwiet het voordat hy die aanbod gemaak het om die platform te koop.

“Musk het voortgegaan om verklarings af te lê, twiets te stuur en betrokke te raak by gedrag wat daarop gemik is om twyfel oor die transaksie te saai en Twitter se aandeelprys aansienlik te laat daal.

“Sy doel was om Twitter teen ʼn baie goedkoper prys te kry, of aan die transaksie te onttrek sonder om beboet te word.

“Wel, Musk se markmanipulasie het geslaag – Twitter het $8 miljard in waarde verloor sedert die transaksie aangekondig is,” lui die regsgeding.

In die regsgeding word versoek dat namens al die Twitter-aandeelhouers in ʼn klasaksie opgetree word en dat ʼn federale hof in San Francisco die geldigheid van die transaksie steun sodat enige skadevergoeding wat deur die wet toegelaat word, aan aandeelhouers toegestaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

A ·

Musk hoef niks te sê nie, want hy het hele kultus wat hom sal beskerm teen enige kritiek.

Jean ·

Kom ons wag vir sy antwoord op jou vraag, hy kan seker nog bietjie afrikaans lees.

Mathys ·

Ek koop jou kar vir R100,000, dis ‘n kar met 200Kw krag en 500Nm wringkrag. Jy aanvaar die koopbedrag van my aanbod en ons skud hand. Nou is jy geregtig om R100,000 in te vorder en ek is geregtig om jou kar in te vorder. Ek is verplig om vir jou R100,000 te gee, jy is verplig om my jou kar te gee. Voordat dit egter gebeur, verwittig jy my dat die kar nie sy oorspronklike engine in het nie, hy het inderdaat nou ‘n 100Kw engine in met 250Nm wringkrag.
Die aandeelhouer se eis gaan misluk, want jy kan nie aan die een hand beweer hy het nie sy ‘due deligence’ – (“Musk het die Twitter-transaksie onderhandel sonder om die nodige omsigtigheid aan die dag te lê wat sulke reuse-transaksies vereis,” het William Heresniak, wat die regsgeding in die Amerikaanse deelstaat Virginia aanhangig gemaak het, gesê.) gedoen nie, en dan aan die ander hand daarop aandring dat Musk kennis gedra het van die halfte van die platvorm se gebruikers nie mense is nie, maar inderdaat botte, publieke-opinie-botte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.