Regstappe dreig oor ‘rassistiese’ veeartsgrens in Namibië

Toe runderpes in 1896 in die destydse Suidwes-Afrika uitgebreek het, is daar inderhaas ʼn veterinêre isolasiekordon getrek wat ongeveer die boonste kwart van die land van die res geskei het.

Die rooilyn in 2018 (Foto: https://commons.wikimedia.org/wiki/User:Man77)

Hierdie lyn word tot vandag in stand gehou en is later ook gebruik om longsiekte en in 1960 bek-en-klouseer te beheer. Daar is 12 beheerpunte op die roetes wat die lyn kruis, wat streng deur staatsveeartse en die polisie bewaak word. Geen vee of veeprodukte mag van die noorde na die suide beweeg word nie.

Die noordelike gebied word weer in twee dele verdeel. Die gebied by die Caprivi-strook word die besmette gebied genoem en suid daarvan is die grys- oftewel kwarantyngebied wat streng dopgehou word.

Die noordelike gebied is streng gesproke ʼn kommunale streek waar vee vrylik kan rondbeweeg. Trekboere trek ook heen en weer, selfs deur die Angola-grens agter weiding aan.

“Inderwaarheid is daar nie ʼn grens tussen Angola en Namibië nie,” sê Thinus Pretorius, voorsitter van die Namibiese Rooivleisprodusente-organisasie (LPO). “Dié grens verdeel ook een stam se gebied in twee, wat beheer baie moeilik maak.”

Vee noord van die rooilyn kan vrylik rondbeweeg. (Foto: Maroela Media)

Suid van die lyn is daar oorwegend kommersiële plase wat omhein is en waar streng veebeheermaatreëls toegepas word. “Die staatsveeartse is veronderstel om elke plaas twee keer per jaar te kom inspekteer en ons moet selfs toestemming van hulle kry as ons ʼn speenkalf tussen twee buurplase wil skuif,” sê hy.

Hierdie lyn is egter die rede hoekom Namibië vandag die enigste land in Afrika is wat rooivleisprodukte na enige land in die wêreld, selfs die uiters streng EU, kan uitvoer.

“Ons het hard daarvoor gewerk en verlede jaar het ons ook ons eerste besending na die VSA gestuur. Verder voer ons ook uit na China. Hierdie lande se vereistes is baie streng en stuur gereeld inspekteurs om na ons stelsels te kom kyk. Tydens die inperking het China selfs versoek dat ons oral kameras in ons abattoirs moet opsit sodat hulle die slag- en verwerkingsproses 24 uur kan monitor.”

Dié boere moet ook op so ʼn veilige wyse boer dat hulle vee nie ingeënt hoef te word of antibiotika moet inkry nie.

Vee suid van die rooilyn word baie streng beheer. (Foto: Maroela Media)

Hierdie spoguitvoerproduk se handelsmerk is Nature’s Reserve en lewer volle naspeurbaarheid. “As jy ʼn pakkie vleis in Duitsland van die rak afhaal, kan jy met behulp van die kode op die etiket die vleis terugspeur na die plaas waar die kalf gebore is,” sê Pretorius.

Hierdie harde werk en opofferinge kom wel met ʼn reusevergoeding. Landbou dra elke jaar N$8 miljard tot die staatskas by waarvan die rooivleisbedryf vir N$6 miljard verantwoordelik is. N$1,3 miljard kom vanaf rooivleisuitvoere. Boonop kry die boere aansienlike premies omdat hulle daarin geslaag het om hulle rooivleis as ʼn nisproduk, in plaas van ʼn gewone kommoditeit, te bemark.

Politieke twispunt

Die bestaansboere in die noorde deel egter nie hierdie voorregte nie en dus het die lyn oor die jare in ʼn politieke twispunt ontaard.

Dit is selfs as ʼn ‘rassistiese’ apartheidslyn bestempel wat deur die Duitse koloniale heersers geskep is om die kommunale boere te benadeel.

Die kordon is derhalwe gereeld onder beleg en die suidelike boere moet hard baklei dat dit behoue en ongeskonde bly.

In 1990 het die regering probeer om die lyn na die Angola-grens te skuif, maar die poging was onsuksesvol.

Selfs pres. Hage Geingob het in 2018 gesê dat die lyn verwyder moet word om die rooivleisbedryf te vergroot.

ʼn Groot poging om die lyn tot niet te maak is twee weke gelede van stapel gestuur deur die leier van die radikale Affirmative Repositioning- (AR)party en burgemeester van Windhoek, Job Amupanda. Hy het ʼn aansoek by die Namibiese hooggeregshof ingedien om die lyn ongrondwetlik te verklaar.

Hy het die regering, die minister van landbou, die prokureur-generaal en ʼn veeartsenykundige amptenaar gedagvaar wat volgens hom op 17 Mei by die veterinêre beheerpunt van Oshivelo op sy vleis beslag gelê het.

“Die oprigting en administrasie van die veterinêre kordonheining was en is ʼn ‘besonder flagrante, onbeskaamde, brutale, skandelike en drakoniese beleid’,” sê Amupanda.

Opheffingswerk

Daar word egter baie werk gedoen om bestaansboere in die noorde te betrek en oor die afgelope 30 jaar het die regering en die LPO baie geld en moeite in die ontwikkeling van die noorde en opheffing van die veeboere ingestoot.

“In die vroeë 90’s het die Namibiese regering begin om ʼn gemiddeld van N$40 miljoen per jaar in die noordelike gebied te belê. Meatco, die regering se vleisbeheerliggaam, het slagpale en ander veehanteringsfasiliteite gebou. Die geld is uit winste en bedryfskoste van die suidelike boere geneem.

“Die direktoraat veeartsenykunde het ook inentingsprogramme van stapel gestuur.”

Sedert 2012 is Meatco nie meer betrokke by die projekte nie omdat dit teen ʼn reuseverlies bedryf is en gestaak moes word.

In 2015 was daar ʼn bek-en-klouseer-uitbreking in die kwarantyngebied en besmette buffels en vee het na die suide deurgebreek waar olifante die heining platgetrap het. Boere tot so ver suid as Mariental het hulle na die noorde toe gehaas om die lyn te gaan herstel.

Blou- en swartwildebeeste en buffels is draers van bek-en-klouseer. (Foto’s: Maroela Media)

 

Die jongste uitbreking was in 2020, toe drie bek-en-klouseer-gevalle in die noordelike gebied bevestig is, die eerste op 8 Augustus, die tweede op 13 Augustus in die Caprivi en die derde op 28 Desember in die Oshikoto-streek. In gebiede soos Kunene het daar egter vir langer as 30 jaar nog geen siektes uitgebreek nie en belanghebbendes poog sterk dat die suidelike deel hulle moet insluit.

“Die moontlikheid om verskeie kompartemente te skep om sekere gebiede van die besmette gebied af te sonder is ondersoek, maar dit gaan meer as N$1 miljard kos en daar is nie geld nie. Boonop gaan dit tussen vyf en sewe jaar duur om in te stel. Weens tradisionele redes is die plaaslike bevolking ook nie daarvoor te vinde nie, want weiding raak onder druk en mense word meer.”

ʼn Verdere probleem is dat kommunale boere tradisioneel hulle beeste laat oud word en dié diere, wat gewoonlik onder 200 kg weeg, se vleis is nie geskik vir uitvoere nie.

Hierdie lyne is nie ʼn vreemde verskynsel nie. “Botswana sit met 18 lyne en Zimbabwe sit met lyne. Dit is nie uniek nie en as Suid-Afrika sulke lyne gehad het, sou die land ook sy rooivleis kon uitvoer,” sê Pretorius.

Na ‘n navraag deur ‘n leser is die volgende kaart by die artikel gevoeg om al die veterinêre kordonne in Zimbabwe, Botswana en Namibië aan te dui:

Die veterinêre kordon in Namibië is niks vreemds nie en verskeie veterinêre kordonne kom ook in Botswana en Zimbabwe voor. [Foto: Namibiese landbou-unie (NLU)]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Moedeloos ·

Ons toer gereeld in daardie geweste en dit is hartseer as hul jou vleis by jou afneem wat jy vervoer en volgens hulle nie mag oorneem van een punt na ander nie. Maar ek verstaan ook hul bekommernisse so ons pas maar aan as jy in hulle land is.

Michal ·

en nie verbaas dat die rassisme woord weer gebruik word nie, ek is seker die berig sou nog steeds sy doel bereik het sonder om die woord te gebruik, of dalk is ek net in droom land

Hoekom ·

Zimbabwe het net ‘n halwe lyn dus is “Zimbabwe het lyne” gepas in die geval…

Du Preez de Villiers ·

Goeiedag B-Man, dankie vir jou navraag. Maroela Media het die artikel bygewerk met ‘n kaart wat die veterinêre kordonne in Botswana en Zimbabe ook toon.

Jr ·

Tot tandepaste is wit en rassisties. Toe hierdie lyn getrek was was dit vir n doel. WETENSKAPLIKE REDE. Hulle gaan weer huil oor siektes en rinderpes. Hulle veë gaan sterf en dan wil hulle eis. Los hulle, hulle is mos slim

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.