Regter verbied WhatsApp in Brasilië

Argieffoto

Argieffoto

Ongeveer 100 miljoen Brasiliane het Donderdag gesukkel om te kommunikeer nadat ʼn regter beslis het dat die gewilde boodskapdiens WhatsApp vir 48 uur lank verbied moes word.

Ontstoke gebruikers het egter hul misnoeë te kenne gegee en die diens is binne ‘n paar uur weer beskikbaar gemaak, het Mark Zuckerberg, hoof van Facebook, die maatskappy wat WhatsApp besit, in ʼn Facebook-plasing bevestig.

Die rede vir die uitspraak is nie duidelik nie, aangesien dit glo spruit uit ʼn kriminele saak in Sao Paulo waarvan die besonderhede nie bekend gemaak word nie.

Zuckerberg het vroeër in ʼn Facebook-plasing gesê die saak hou verband met die maatskappy se poging om kliënte se data te beskerm. “Ek is verstom dat ons pogings om kliënte se data te beskerm tot só uiterste beslissing gelei het deur ʼn enkele regter wat nou elke persoon in Brasilië straf wat WhatsApp gebruik,” het Zuckerberg op sosiale media gesê. “Tot vandag was Brasilië ʼn vennoot om ʼn openlike internet te skep. Brasiliane was nog altyd baie passievol om hul stem aanlyn te laat hoor.”

Brasilië se telekommunikasiereuse het gering reageer teen die uitspraak. Dié maatskappye kla al maande lank oor WhatsApp, en sê dat hulle inkomste verloor, aangesien kliënte eerder van die gratis diens gebruik maak eerder as die boodskapdiens van die maatskappye. Maar SindiTelebrazil, die vereniging wat die selfoonbedryf verteenwoordig, het in ʼn verklaring ontken dat die betrokke maatskappye die klaers in die saak is.

Brasiliane is van die wêreld se mees aktiewe gebruikers van sosiale media soos Facebook, WhatsApp en Twitter. Talle het vinnig van WhatsApp se mededingers gebruik begin maak. Viber het gesê gebruik het die afgelope 12 uur met 2000% toegeneem en Telegram het gesê meer as 1.5 miljoen Brasiliaanse kliënte het Donderdag aangesluit.

Tegnologiemaatskappye het al ʼn paar keer in die verlede hulself in ʼn penarie bevind weens Brasilië se ingewikkelde regstelsel, waar enkele regters in die verlede probeer het om Facebook, Google of ander dienste in die land wou verbied, wanneer die betrokke dienste byvoorbeeld nie aanstootlike plasings wil verwyder of gebruikersinligting wil oorhandig nie.

Dit is egter die eerste keer wat ʼn groot aanlyndiens landswyd verbied word.

“Dis mal! Dit bederf my geheime Kersvader-partytjie,” het Caroline Largueza gesê, terwyl sy woes op haar slimfoon in ʼn winkelsentrum in Rio de Janeiro getik het. Dié universiteitstudent het beplan om ʼn paar vriende te ontmoet om op hul kampus Kersgeskenke uit te ruil, maar hulle het beplan om Donderdag oor WhatsApp te bevestig waar hulle mekaar gaan ontmoet. “Sonder WhatsApp is dit baie moeilik om met enigiemand te kommunikeer,” het sy bygevoeg.

Nagenoeg die helfte van Brasilië se inwoners gebruik WhatsApp, volgens die maatskappy.

Mediahuise maak van WhatsApp gebruik om wenke, foto’s en video’s van lesers te ontvang. Families gebruik kletsgroepe om foto’s van kinders te deel en familie-etes te reël. Taxibestuurders ruil gereeld wenke uit oor verkeersknope of waar klante wag.

“Ek was vandag siek en moes van die huis af werk,” het Luciana Rego, ʼn bestuurder van ʼn maatskappy wat huishoudelike skoonmaakprodukte verkoop, gesê. “Ek het twee WhatsApp-kletsgroepe om met my personeel te kommunikeer. Wanneer ek nie in die kantoor is nie, kan ek vinnig opdragte uitdeel en hulle kan sê waarmee is hulle besig. Besluite gebeur sommer vinnig, en ons gebruik dit baie. Maar vandag het alles lank gevat. Ons moes van e-pos gebruik maak.”

Sao Paulo se staatshofstelsel het in ʼn verklaring slegs gesê dat die maatskappy twee regsuitsprake vroeër vanjaar verontagsaam het. “Die staatsaanklaer het besluit om die diens te verbied omdat die maatskappy nie ag geslaan het op die regsbeslissing nie.”

Gebruikers kon die app oopmaak, maar boodskappe wou nie stuur nie.

Tonight, a Brazilian judge blocked WhatsApp for more than 100 million people who rely on it in her country.We are…

Posted by Mark Zuckerberg on Thursday, 17 December 2015

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

Duimpies op!!! Vir 48 uur moes die Braziliane met mekaar PRAAT!!, opkyk van hulle fone af, en oog-kontak met ander mense maak…..Dit moes hel gewees het!!

charmaine ·

Puik idee. Tegnologie is gerieflik, maar soms is dit ook die oorsaak dat ons nie weet wat regtig met mense aangaan nie ons verloor voeling met die “menslike kant”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.