Reik na die sterre – letterlik

Die miljardêr Yuri Milner en prof. Stephen Hawking op 12 April 2016 tydens die perskonferensie oor die nanotuie

Die miljardêr Yuri Milner en prof. Stephen Hawking op 12 April 2016 tydens die perskonferensie oor die nanotuie

Prof. Stephen Hawking en die Russiese miljardêr, Yuri Milner, het Dinsdag ʼn $100 miljoen-projek aangekondig om ʼn ruimtetuig na Alpha Centauri te stuur.

Die projek, genaamd “Breakthrough Starshot”, sal van sogenaamde “nanotuie” gebruik maak wat deur strale lig aangedryf sal word. Elkeen van dié tuie sal oor kameras en ʼn ingeboude GPS beskik.

Milner het verduidelik Alpha Centauri, ons naaste ster naas die son, is ongeveer 4 ligjare (25 biljoen myl) ver. Tot dusver was ruimtevaarte egter só stadig dat ons dit nooit sou kon bereik nie.

Volgens hom is daar egter drie deurbrake in tegnologie wat die hele konsep van ruimtevaart verander.

Die eerste tegnologie wat ʼn deurbraak gelewer het, is selfoontegnologie wat die grootte van mikrotegnologie drasties verminder het. Milner het ʼn mikroskyfie, klein bietjie groter as ʼn posseël, gewys en verduidelik dat soortgelyke skyfies na Alpha Centauri gestuur sal word. Die skyfies, ʼn sogenaamde “sterskyfie” (“starchip”), kan in massa vervaardig word en kos elkeen ongeveer soveel as ʼn slimfoon.

Die tweede deurbraak was in nanotegnologie wat ligter en dunner materiaal beskikbaar gestel het. Seile, ʼn paar meter wyd en wat slegs ʼn paar gram weeg, kan uit dié materiaal vervaardig word en sal “ligseile” (“lightsail”) genoem word.

Yuri wys hoe groot die sterskyfies ongeveer sal wees

Yuri wys hoe groot die sterskyfies ongeveer sal wees

ʼn Nanotuig (“nanocraft”) is dus ʼn sterskyfie wat aan ʼn ligseil vasgemaak word.

Danksy vordering in fotonika (die studie van lig) kan ligstrale só nanotuig aandryf. ʼn Paar kleiner laserstrale sal dan saamspan om ʼn groter straal te vorm en die nanotuie aandryf.

Volgens Milner sal honderde en duisende nanotuie na een teiken gestuur word teen 100 miljoen myl per uur. “Dit is 1 000 keer vinniger as wat ons tans in die ruimte kan reis en 1 000 000 keer vinniger as ʼn motor op die snelweg,” het hy verduidelik.

Volgens hom sal die nanotuie Alpha Centauri dus binne 20 jaar ná lansering bereik en sal op pad na die bestemming foto’s kan neem en kan terugstuur na die aarde.

Breakthrough Starshot verwelkom die bydraes van die publiek en kenners om ʼn bydrae te lewer tot dié navorsing.

Lees meer: Breakthrough Starshot
Kyk die video van die bekendstelling

Lees ook: NY Times, ARSTechnica.com, centauri-dreams

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Daan ·

Dit is fantasties om te sien dat die mens streef na die sterre. Die enigste probleem is dat teen 100 miljoen myl per uur sal die afstand van 250 biljoen myl ongeveer 250 jaar neem om af te lê, uitsluitend die tyd wat dit neem om tot op daardie spoed te versnel.

Johan 2 ·

En die 25 jaar om inligting terug te stuur, en ek sink nie daar is baie tussen ons en die ster nie. Maar dit is n puik projek, sal interessant wees om te volg. Hoe gaan hul dit elektrisiteit gee? Seker met radioaktiewe verval?¿ 25 000M/100M =250jaar. Tensy dit n versnelling is en nie net n snelheid nie.

Dirkus ·

Hulle berekenings is reg vir die Standaard Internasionale (SI) definisie van ‘n biljoen (berekening volg).

‘n SI (Standaard Internasionaal) biljoen is ‘n miljoen-miljoen 1000 000 000 000 (10^12)
‘n Engelse biljoen (SI miljard) is ‘n duisend-miljoen, 1 000 000000 (10^9)

Bereking:
299792.458 km/s x 60s x 60 min x 24 h x 365.2425 dae x 4.367 ligjaar
= 41314161616266 km.
of
41.31416162 (SI) biljoen km

Omgeskakel na myl (km x 0.621371)
25.67142192 (SI) biljoen myl

Teen ‘n gemiddelde snelheid van 100 miljoen myl/h (=160.93 miljoen km/h) sal dit omtrent 30 jaar neem om daar te kom.

Hierdie tipe tegnologie lewer egter ‘n tuig wat konstant versnel, dus nie ‘n konstante snelheid het nie, maar waarvan die snelheid voortdurend toeneem.

Graeme ·

4 ligjare is nie 25 biljoen myl nie (wat beteken Alpha Centauri is in ons solar system!!!).

Dit is 23.52 TRILJOEN myl (1 ligjaar = 5.88 TRILJOEN myl waar 1 Triljoen = 1,000 Biljoen)

Miskien moet Maroela media maar bly by godsdiensartikels. Sterrekunde is nie jul ‘ding’ nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Graeme

Dankie vir jou kommentaar.
‘n “Billion” in Afrikaans is ‘n “miljard” en “trillion” is ‘n “biljoen”. Die “25 biljoen myl” is dus die vertaling van “25 trillion miles”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Graeme ·

Enige iemand wat die artikel lees sal dadelik kapsie maak teen die afrikaanse terme vir hierdie hoeveelhede. Niemand in die res van die normale wêreld weet wat ‘n “miljard” is nie. Die Internasionale Stelsel van Eenhede noteer nie die term nie. As ek dit in ‘n sterrekunde vraestel beantwoord het by MIT het ek 0 gekry vir die vraag.

En nêrens is daar ‘n voetnota in hierdie artikel om dit uit te wys nie. In elk geval is dit ook nie 25 “afrikaanse triljoen” myl nie maar 23.52

Nico K ·

Ek sal graag kommentaar wil hoor van iemand wat sterrekunde bestudeer. Is hierdie nie net ‘n reklame foefie nie. 3 en ‘n half ligjare is baie ver. Die spoed van lig is 300 000 km per sekonde. Dit is dus 300 000 x 60 x 60 x 24 x 365. Ek het die som probeer doen maar opgegee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.