Reisende oues in Thailand vas oor ‘dobbelary’

Die polisie in Thailand slaan op die brugspelers toe Foto: Pattaya One

Die polisie in Thailand slaan op die brugspelers toe Foto: Pattaya One

ʼn Groep Westerlinge, waaronder ʼn 84-jarige vrou van Nederland, is in Thailand in hegtenis geneem terwyl hulle brug gespeel het.

Die brugspelers, hoofsaaklik van Engeland, maar ook van Nederland en Skandinawië, is Woensdagmiddag deur ʼn groep soldate en polisiebeamptes in hegtenis geneem.

Kol. Sukathat Pumpanmuang, superintendent van die Pattaya-polisie, het gesê beamptes het ʼn wenk ontvang dat onwettige dobbelary bo die restaurant plaasvind.

Die groep is Donderdag in die vroeë oggendure vrygelaat op borgtog van 5 000 baht (R2 200) elk, berig Pattaya One. Sukathat het gesê hulle sal nie aangekla word van dobbelary nie, maar kan moontlik tereg staan op aanklag dat hulle ʼn wet oortree het wat bepaal dat individue nie meer as 120 ongeregistreerde speelkaarte mag besit nie. Die groep het by agt verskillende tafels sit en brug speel.

Hy het gesê polisiebeamptes het nie gesien dat die spelers, meeste in hul 60’s of ouer, geld verwissel nie. Die beamptes het egter beslag gelê op rekenaars, speelkaarte en ʼn boek met uitslae van die brugspeletjies.

Chodchoy Sophonpanich, president van die Kontrak Brugliga in Thailand en boonop lid van een van Thailand se prominente gesinne in die bankwese, het van die kaartspelers se lot te hore gekom. Hy het Donderdagoggend na Pattaya gereis om die polisie in kennis te stel dat brug as ʼn sport eerder as dobbelary beskou word.

“Die polisie weet dat brug ʼn sportsoort is, aangesien ʼn soortgelyke saak al vantevore voorgekom het, maar hierdie keer het weermagbeamptes die klopjag uitgevoer, en hulle het dalk nie geweet nie,” het Chaiyut Assanaiyarat, bestuurder van die Brugliga, gesê.

Thailand se eerste minister het op dobbelary, veral onwettige casino’s, begin toeslaan as deel van ʼn groter teen-korrupsieveldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lise ·

Ha-ha – dit is ‘n storie om vir die kleinkinders te vertel.

Louise ·

Jy sien, gras nie noodwendig groener aan die ander kant nie.
Dan dink ons, ons land is n sirkus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.