Reisigers gewaarsku ná uitbreking van dodelike plaag

Vrywilligers van Red Cross praat met inwoners van ʼn nedersetting buite Antananarivo in Madagaskar (16 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Alexander Joe

Reisigers na Madagaskar is vandeesweek gewaarsku om die nodige voorsorgmaatreëls te tref voordat hulle na dié eiland reis te midde van dodelike builepes en longpes wat daar uitgebreek het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê hoewel dit algemeen is vir builepes om dié tyd van die jaar in Madagaskar voor te kom, affekteer die plaag vanjaar ook stedelike gebiede buite die normale geografiese patroon.

DPA berig die plaaslike departement van gesondheid het Saterdag gesê die plaag het reeds die lewe van 107 mense geëis. Manitra Rakotoarivony, direkteur van gesondheidsbevordering, het gesê tot dusver is 1 104 gevalle aangemeld en 689 mense het van die siekte herstel.

Dr. Pete Vincent van die Netcare-reisklinieke en Tokai Medicross, het gesê dit is kommerwekkend dat die plaag ook stedelike gebiede bereik het aangesien hierdie vorm van die plaag van mens tot mens versprei kan word deur liggaamsvloeistowwe en respiratoriese vog. Vincent het gesê hoewel die kans vir reisigers om die siekte op te doen relatief laag is, moet reisigers na Madagaskar hulself vertroud maak met die potensiële risiko’s en die voorsorgmaatreëls wat getref kan word.

“Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) beveel aan dat reisigers na Madagaskar digbevolkte gebiede of enige mense wat siek is vermy. Daar word ook aanbeveel dat besoekers chirurgiese maskers dra om die kans om die pes op te doen te verminder,” het Vincent gesê.

“Aangesien die plaag in sy builevorm deur knaagdiervlooie na mense oorgedra word, moet alles moontlik gedoen word om kontak met knaagdiere, insluitend dierkarkasse, te vermy.”

Chirurgiese maskers word om kinders se gesigte geplaas in Antananarivo, Madagaskar (3 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Alexander Joe

Vincent het reisigers aanbeveel om gifstowwe, byvoorbeeld Doom, te gebruik om vlooie binnenshuis, in voertuie en kamptoerusting uit te roei. Dit is ook raadsaam om insekweerders op moue, krae en die onderkant van langbroeke en rompe te gebruik, asook op gordyne, beddegoed en voertuigsitplekke om vlooie weg te hou.

Volgens Vincent sluit vroeë simptome van builepes in die pynlike inflammasie van limfnodes, terwyl longpes gepaardgaan met koors, kortasem, hoes en swakheid. “Enigiemand wat vermoed dat hulle moontlik geïnfekteer kan wees of hierdie simptome toon terwyl hulle in die plaaggebied reis, moet onmiddellik mediese behandeling kry, aangesien vroeë behandeling die uitkoms aansienlik kan verbeter,” het hy gesê.

Hy het ook gewaarsku dat reisigers na Madagaskar nie die risiko van malaria moet ignoreer nie, hoewel die uitbreking van builepes en longpes nou meer aandag in die media geniet. “Malaria is steeds ʼn ernstige gesondheidsrisiko vir mense wat Madagaskar besoek. Besoek ʼn reiskliniek voordat jy vertrek om te verseker dat jy die gepaste voorsorgmaatreëls tref.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rupert Ashford ·

Die longpes (pneumonic plague) kan ernstige impak he op digbevolkte gebiede. Dit was die sg “black death” wat paar honderd jaar gelede miljoene uitgewis het in Europa. Groot gevaar…

Johanna Botha ·

Moet SA nie ook n waarskuwing gee aan voornemende besoekers van ander lande wat hulle veiligheid betref in SA ….minste kan mens nog voorsorg tref vir die siekte met n masker en Doom maar teen die misdaad weet mens nie regtig wat om voortestel nie …

ecolie ·

Ons beurt kom met die riool in ons spruite, riviere en damme.

Paul ·

In Afrikaans is die vertaling vir die spesifieke siekte wat in Engels “plague” of “the plague” genoem word, nie “plaag” of “die plaag” nie. Die korrekte term vir die siekte is “pes” of “die pes”. In Afrikaans is “plaag” slegs ‘n generiese woord vir enige soort ernstige, oordraagbare siekte of ander soort rampspoedigheid.

Theresa ·

Weet iemand (bv. Maroela) of daar ernstige voorsorgmaatreëls getref word om reisigers VANAF daardie plekke NA Suid-Afrika te fynkam vir enige vorm van hierdie ernstige/dodelike siekte????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.