Rekening met Merkel vereffen: AfD breek deur in Duitse verkiesing

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel. Foto: Commons.wikimedia.org

Daar was geen feesgevoel op die strak gesigte langs bondskanselier Angela Merkel ná die Duitse parlementsverkiesing op 24 September nie. Haar party het met 32.8% van die stemme ’n vierde keer gewen. Hoewel die Duitse ekonomie sterk is, het baie kiesers egter die rekening van haar besluit om ’n miljoen buitelandse migrante in 2015 toe te laat vereffen.

Meer as ’n miljoen kiesers van die Christen-Demokrate (CDU) en Christen Sosiale Unie (CSU) het oorgeloop na die jong Alternatief vir Duitsland (AfD). Die CDU het die slegste ooit onder Merkel se leiding gedoen en die tweede slegste in sy geskiedenis. Merkel self het dit gister nie weggesteek nie: “Ons hoef nie lank daaromheen te praat dat ons ’n beter uitslag verwag het nie.”

Meer as 20% van die CDU en CSU se kiesers het elders gestem. Van hul 309 parlementslede in die vorige parlement is sowat negentig parlementlede en hul medewerkers nou werkloos. Daar sal vermoedelik nou ’n stryd binne die CDU en CSU wees oor of hulle ’n nog strenger migrasie en veiligheidsbeleid moet volg.

Vernederde Sosiaal-Demokrate

Merkel se koalisievennoot, die Sosiaal-Demokrate, het nog swakker gedoen en 20% van die stemme gekry, 5% weg in steun of ’n verlies van sowat 25% steun. Van 193 parlementslede in die vorige parlement is 55 parlementlede en hul medewerkers nou werkloos. “Spookagtige gejubel by ’n vernederde party”, lui een van die koerant Die Welt se opskrifte hieroor.

Die grootste skok vir die hoofstroommedia is die opkoms van die Alternatief vir Duitsland (AfD), wat sowat 13% van die stemme gekry het. Die AfD is nou die derde grootste party, nadat dit in 2013 as pasgestigte party nie oor die 5%-kiesdrempel kon kom nie. Meer as drie miljoen kiesers het vir die party gestem. Meer as 84 parlementslede en sowat 350 medewerkers trek nou vir die eerste keer die parlement in.

Die markliberale FDP is ná ’n goeie veldtog met 10,3% terug in die parlement. Die Groenes en die sosialistiese Linke het beide ongeveer 9% stemme, dit wil sê effense groei. Merkel sal vermoedelik met die FDP en Groenes die eerste gesprekke voer oor ’n moontlike koalisie. Die Sosiaal-Demokrate het voorlopig besluit om liewer as opposisieparty voort te gaan. Sowat 75% van die Duitse kiesers het gestem, meer as 3% meer as in die vorige verkiesing in 2013.

AfD se sukses

Die AfD se sukses oorheers die toon in die Duitse media. Sommige oordramatiseer dit as Weimar-toestande, ’n verwysing na die onstabiele tydperk in die 1920’s wat Hitler se opkoms moontlik gemaak het.

Die AfD is wel ’n jong party vol strominge, korrelkoppe, talentvolles en amateurs, en ’n hoogs onderontwikkelde organisasie. ’n Mens kan nog baie drama verwag weens hul provokerende benadering tot politieke taboes.

Die bestaan van die AfD het in die afgelope jaar reeds die Duitse politieke debatte rondom veiligheid, migrasie en identiteitspolitiek grade nader aan hul eie uitgangspunte verskuif. Die standpunte van die CDU, CSU, SPD en FDP hieroor is nou anders en kritieser. Dit weerspieël ’n wyer opkoms in Europese identiteitspolitiek, soos wat die boek Kultuurvryheid en selfbestuur (Kraal Uitgewers 2017) aandui.

AfD-kiesers is deursnee-Duitsers

Koerantstories dat AfD-kiesers veral sogenaamde antidemokratiese verregses is, bots met die werklike kieserspatrone hier. Volgens ontleders het sowat 1,2 miljoen kiesers wat nog nooit gestem het nie, ook nou vir die AfD gestem. Die AfD het dus daarin geslaag om byna 40% van sy kiesers as nuwe kiesers by die demokratiese stelsel te betrek.

Die politieke wetenskaplike Volker Kronenburg beoordeel die rede hiervoor soos volg: “Die AfD het tydens die kiesstryd die bekommernisse van die burgers aangespreek. Die SPD het hierdie temas tydens die kiesstryd wyd vermy. Dit was duidelik die verkeerde manier om nie-stemmers te mobiliseer.” Infratest se meningsopnames onder AfD-kiesers bevestig sy ontleding.

Die party het inderdaad nasionalistiese elemente naas sy burgerlike en liberaal-konserwatiewe elemente, maar hulle is vreedsaam. Meer as ’n miljoen AfD-kiesers, of sowat 30% van sy kiesers, het voorheen vir die Christen-Demokrate gestem. Sowat 450 000 het voorheen vir die Sosiaal-Demokrate gestem en sowat 400 000 vir die sosialistiese Linke-party. Byna 30% van die AfD-kiesers kom dus uit linkse of linkssentristiese partye.

Toekomspolitiek

Europa staan voor nuwe uitdagings op sy oosgrense en suidgrense, en ook wat sy interne ontwikkeling en internasionale posisie betref. Om dit te bemeester, benodig Duitsland demokratiese partye met ’n gebalanseerde uitkyk en met genoeg steun van hul burgers.

Die Duitse demokrasie is ná hierdie verkiesing kerngesond. Anders as elders in Europa het die Christen-Demokrate en Sosiaal-Demokrate steeds ’n meerderheid. Hierdie partye het egter oënskynlik baie burgers se sorge nie duidelik genoeg verstaan nie: ’n gevoel van onveiligheid, vrees vir verswelging deur onselektiewe massamigrasie, en die aantasting van hul kultuurdomein en welvaartstaat.

Die AfD het nie noodwendig oplossings vir alle probleme in Duitsland nie. Die party het wel baie burgers se aansprake ernstig beskou en benoem, en is daarvoor beloon. Die koek is nou een-agste kleiner vir die groot partye, en hulle sal na hulle burgers en kiesers moet luister om verdere verliese te keer. Hopelik sal hierdie les van die Duitse parlementsverkiesing van 2017 insink by die Christen-Demokrate en Sosiaal-Demokrate van Duitsland.

Dr. Heinrich Matthee is ’n politieke ontleder vir bedrywe in Europa.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rupert Ashford

Interessant dat iemand hier by Maroela onlangs te vertelle gehad het dat die “populistiese ver-regse aanslag” (dit is nou meeste ouens wat anti-migrasie en vir volksnasionalisme is – eintlik enigiemand wat aan die regterklant van sosialisme staan) afgeslaan is en dat Europa nou in vrede kan voortgaan met hulle planne. Dinge lyk egter anders in die praktyk, ne. Maak geen fout nie, net soos Le Pen en Wilders is die AfD in sy kinderskoene met genoeg amateurs, opportuniste, malkoppies en veral interne rysmiere dat daar nog heelwat skandes sal wees. Vertroulike vergaderings se inhoud sal “gelek” word en mal dinge… Lees meer »

Eish

Persoonlik dink ek dat politici hopeloos te veel mag verkry met verkiesings. Daar duik soveel krities balangrike kwessies tydens die regering se 4 of 5 jaar van bewind op, wat tog soos hier, kiesers kan vervreem. Kwessies wat belangrik is, soos die immigrasie van hordes, behoort eerstens aan n referendum onderwerp te word synde die impak daarvan op die bevolkingsamestelling, werksgeleenthede, veiligheid, kostes vir die staatskas, behuising en waardes te verreken. Laat die burgery daaroor n mening vel, want hul loop deur onder belasting, terrorisme, gebrek aan werksgeleenthede, toename in misdaad en vernietiging van waardesisteme. Politici is grootliks verskans teen… Lees meer »

Ada

Ek is so bly Merkel het bloedneus gekry.Hopelik sal sy die immigrante nou terugstuur na waar hul vandaan kom.Hulle het lank genoeg gekuier. Die Duitsers wil n Duitsland he nie n deurmekaarland met vreemdelinge wat nie daar hoort en n gevaar vir die Duitsers inhou nie.Ek hoop die libs neen kennis.

Therese van Schalkwyk

“Strak gesigte” van die Duitse politieke ‘elite’ en dit omdat hul mede-Duitsers met reg verswelg voel deur vreemdes en hul stembriewe die praatwerk laat doen het. Hoe verheug en verlig voel hierdie liefhebber van Europa nie nou nie. Daar is nog ‘n sprankie hoop!

Veels geluk aan die AfD, mag hul van krag tot krag gaan. Verwag ‘n felle en meedoënlose aanslag deur die media en vyandige linkses, maar ten minste word hul nie geïgnoreer soos Geert Wilders se party in die “Nederlandse demokrasie” nie.

Sebastiaan

Goeie, gebalanseerde ontleding. Geluk aan die skrywer.