Rekordbedrag vir ou paar tekkies betaal

Nike “Moon Shoe” (Foto: AP Photo/Ted Shaffrey)

ʼn Versamelaar het Dinsdag meer as R6 miljoen vir ʼn paar tekkies uit 1972 opgedok.

Die 1972 Nike Waffle Racing Flat “Moon Shoe”, die laaste oorblywende lot in Sotheby’s se veiling van Stadium Goods se “Ultimate Sneaker Collection”, is tydens ʼn aanlyn veiling vir $437 500 (net meer as R6 miljoen) verkoop. Dit is ʼn nuwe wêreldrekord vir ʼn paar tekkies.

Halina Loft, van Sotheby’s se redakteurspan in New York, het gesê die paar tekkies is aan ʼn versamelaar, Miles Nadal, verkoop. Hy het verlede week 99 lotte op ʼn privaat veiling deur Sotheby’s gekoop. Hy is van voornemens om die tekkies saam met sy versameling klassieke motors uit te stal by sy privaat museum in Toronto, Kanada.

Vriende, familie, liefdadigheidsorganisasies en ander kan op versoek die museum besoek.

Loft het gesê die verwagting was dat die paar Nike-tekkies vir $160 000 sou verkoop.

“Die Nike ‘Moon Shoe’ is een van die belangrikste artefakte in Nike se lang geskiedenis. Nike se medestigter en bekroonde afrigter van Oregon-Universiteit, Bill Bowerman, het die skoen vir die atlete by die 1972 Olimpiese-proewe ontwerp. Slegs 12 pare is gemaak en selfs minder bestaan vandag nog. Hierdie paar is die enigste paar van dié tekkies wat nooit gedra is nie,” het Loft verduidelik.

“Die storie lui dat Bowerman geïnspireer is om die innoverende wafelsool te skep deur rubber op sy vrou se waffelpan te gooi en die eerste prototipe van dié sool te maak.”

Nadal het verlede week aangebied om die volledige versameling van die seldsame tekkies te koop wat in die aanlyn veiling te koop aangebied is (100 lotte). Sotheby’s en Stadium Goods het egter gekies om die betrokke paar Nike-tekkies deel te hou van die openbare veiling. Die aanlyn veiling was tot 23 Julie beskikbaar, soos oorspronklik geskeduleer.

Nadal was baie dankbaar dat hy die hoogste bod ingedien het. “Ek is opgewonde om die ikoniese Nike ‘Moon Shoes’ aan te skaf, een van die seldsaamste paar tekkies wat ooit vervaardig is,” het hy gesê. “Dit is werklik ʼn geskiedkundige artefak in sportgeskiedenis en popkultuur. Toe ek aanvanklik die 99 ander paar tekkies verlede week gekoop het, het ek geweet die paar Nikes moet deel bly van dié merkwaardige versameling. Ek is baie gelukkig met die uitslag.”

Die vorige wêreldrekord vir ʼn paar tekkies was $190 373 wat in 2017 verkoop is. Dié paar Converse-tekkies is gedra (en geteken) deur Michael Jordan in die basketbal-eindstryd tydens die 1984 Olimpiese Spele.

Klik hier om meer te lees oor hoe dié paar tekkies gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann cb ·

Ek het ‘n paar Grasshoppers in 1975 gekry – ek het hulle vanoggend weer aangetrek om buite te werk! Hulle is knap, maar hou nog!

Sê maar net ·

BELAGLIK!! Ten minste het dit die koerant gehaal……

GM ·

Ek dink ek moet ‘n webwerf begin met my bankbesonderhede op. Lyk my daar is te veel mense wat nie lekker weet wat om met al hul geld te maak nie. ;-)

Johan Maritz ·

Na hierdie berig kan hy n oproep van die ontvanger verwag

Malherbe ·

Ek het n paar New Balance tekkies, want al opgedra is, ek het ook op n warm baairooster getrap en dit in die sool ingesmelt. Gereeld gras gesny met dit aan. Hulle lê nou al meer as twee jaar in my garage.

Asseblief maak my n goeie offer, of ek sal genoodsaak wees om dit op Big or Buy te sit

Marius ·

As jy daai tipe geld spandeer op sulke snert behoort jy opgesluit te word vir kriminele onnoselheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.