Rekordboete vir Meta oor EU-datareëls

(Foto: Pixabay)

Meta, moedermaatskappy van die sosialemediaplatform Facebook, is ’n rekordboete van €1,2 miljard (ongeveer R25 miljard) opgelê vir die oordrag van gebruikersdata vanaf die Europese Unie (EU) na die Verenigde State van Amerika (VSA).

Ierland se reguleerder het Maandag aangekondig dat die oordrag in stryd met ’n vorige hofuitspraak is.

Die Ierse Databeskermingskommissie (DPC), wat namens die EU optree, sê die Europese Databeskermingsraad (EDPB) het Meta beveel om die “administratiewe boete” in te vorder.

Die DPC het Meta se oordrag van persoonlike data van die EU na die Verenigde State sedert 2020 ondersoek waarna hy bevind het dat Meta – met sy Europese hoofkwartier in Dublin – versuim het om “die risiko’s vir die fundamentele regte en vryhede van datasubjekte aan te raak” wat in ’n vorige hofuitspraak uitgewys is.

Meta het in reaksie hierop gesê hy is “teleurgesteld om uitgesonder te word” en dat die uitspraak “gebrekkig en ongegrond is”.

“Dit skep ’n gevaarlike presedent vir talle ander maatskappye,” sê Meta.

Nick Clegg, Meta se president vir internasionale sake, en Jennifer Newstead, hoofregsbeampte, sê die maatskappy gaan teen die besluit en sy bevele, ook die boete, appelleer.

“Daar is geen onmiddellike ontwrigting vir Facebook in Europa nie,” het hulle bygevoeg.

Meta sê hy hoop dat die VSA en die EU ’n nuwe wetlike raamwerk vir die gebruik van persoonlike data in die komende maande sal aanvaar. Dit kom na aanleiding van ’n beginselooreenkoms verlede jaar wat Meta toegelaat het om sy oordragpraktyke voort te sit.

Vierde boete

EU-reguleerders het Meta vier keer in ses maande beboet; drie boetes is vanjaar vir data-oortredings deur Instagram-, WhatsApp- en Facebook-dienste opgelê.

In Januarie het die DPC Meta met €390 miljoen beboet vir die oortreding van datareëls in die gebruik van geteikende advertensies op sy apps.

Meta is ook in Maart verplig om €5,5 miljoen vir die oortreding van die Algemene Databeskermingsregulasie (GDPR) te betaal.

Die aanlyn handelaar Amazon is in 2021 in Luxemburg met €746 miljoen beboet vir die oortreding van die GDPR.

In die jongste saak wou die DPC aanvanklik vir Meta dwing om die gewraakte data-oordragte op te skort. Volgens die DPC sal ’n boete “die omvang van magte oorskry wat as gepas, proporsioneel en nodig beskryf kan word”.

Die DPC se ewekniereguleerders in die EU, bekend as Concerned Supervisory Authorities (CSA’s), het egter nie saamgestem nie en sê dit moet “onderhewig wees aan ’n administratiewe boete”.

Met geen hoop op konsensus nie, het die Ierse liggaam die besware na die EDPB verwys. Dié het  beslis dat Meta Ierland toekomstige oordrag van persoonlike data na die VSA moet opskort en ’n boete betaal.

Clegg en Newstead sê die EDPB se besluit om die DPC te ignoreer “skep ernstige vrae”.

“Daar is geen land wat meer as die VSA gedoen het om deur sy jongste hervormings by Europese reëls aan te pas nie, en dít terwyl oordragte grootliks onbetwis na lande soos China voortgaan.”

Andrea Jelinek, voorsitter van die EDPB, het Meta se oortreding as “baie ernstig” bestempel en die data-oordragte as “sistematies, herhalend en deurlopend” beskryf.

“Die ongekende boete is ’n bewys aan organisasies dat ernstige oortredings verreikende gevolge het,” sê Jelinek.

Max Schrems, privaatheidsaktivis, wat ’n dekade lank al regstryde teen Meta oor die verskuiwing van EU-data na die VSA voer, het die besluit verwelkom.

“Sedert Edward Snowden se onthullings oor Amerikaanse groot tegnologie wat die massatoesig-apparaat (Nasionale Veiligheidsagentskap) gehelp het, was Facebook (nou Meta) onderhewig aan litigasie in Ierland,” sê Schrems se organisasie, die Europese Sentrum vir Digitale Regte.

Schrems sê dat strenger sanksies toegepas kon word aangesien Meta “wetend die wet oortree het om wins te maak”.

“Dit het ons tien jaar van litigasie teen die Ierse DPC geneem om hierdie resultaat te bereik,” sê Schrems.

“Die Ierse reguleerder het alles ingespan om hierdie besluit te vermy,” het hy bygevoeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanEtz ·

Baie interessant…
Sal graag wil weet, sou die boetes wel op ñ stadium betaal word, wie gaan uit daardie fondse baat?
Ek kan net in my mou lag, as ek dink wat daarmee sou gebeur in ons liewe SA….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.