Rekordtyd tussen NY en Londen danksy storm

Argieffoto (Foto: Eluveitie – Eie werk/Wikimedia Commons)

ʼn Vlug van British Airways het waarskynlik die vinnigste subsoniese tyd tussen New York en Londen aangeteken en byna 1 300 km/h gehaal.

Die passasiersvlug oor die Atlantiese Oseaan het Saterdagaand plaasgevind tydens Storm Ciara.

Volgens Flightradar24, ʼn aanlyn diens waar vliegtuie gevolg kan word, het ʼn Boeing 747 van British Airways Saterdag van JFK-lughawe vertrek en 4 uur 56 minute later in Heathrow aangekom.

Dit is ʼn minuut vinniger as ʼn Airbus A350-vlug van Virgin Atlantic.

Vlugte wat in die teenoorgestelde rigting gereis het, het meer as twee en ʼn half uur langer geduur.

British Airways en Virgin het die vorige New York na Londen-rekord verbeter. Norwegian het in Januarie 2018 Gatwick-lughawe in Londen bereik in 5 uur 13 minute ná dit van JFK vertrek het. Die gemiddelde duur van vlugte tussen New York en Londen is ongeveer 6 uur 13 minute.

Storm Ciara is die Verenigde Koninkryk se ergste storm in sewe jaar en verskeie vervoerdienste is opgeskort. Honderde vlugte, treine en veerbootdienste is gekanselleer.

Die vinnigste transatlantiese vlug deur ʼn passasiersvliegtuig is deur Concorde aangeteken toe dié supersoniese vliegtuig in diens was. Die rekord is op 7 Februarie 1996 aangeteken toe die vliegtuig van New York na Londen die oseaan binne 2 uur 53 minute oorgesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SJME ·

In Suid Afrika is dit voetslaan… Hoogste snelheid was 2 bankrowers wat in 1972 vir polisiehonde weggehardloop het. Drie skoene is nogsteeds in “aanhouding” as bewyse… Argiefmateriaal natuurlik,

Kruger ·

Hmmm….dink die arabiere in die sesdaagse oorlog was vinniger…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.