Renosterstropery: China skenk trokke aan Namibië

renosters-witrenoster

Foto: Casey Allen/Pexels.com

Die Chinese regering gaan 30 vragmotors, wat 4×4-aangedrewe is, en kamptoerusting aan Namibië skenk in ʼn poging om renosterstropery, waarmee Chinese inwoners verbind word, te bekamp.

Prof. Peter Katjavivi, Namibië se speaker van die nasionale vergadering, het Maandag dié aankondiging tydens ʼn nuuskonferensie in die hoofstad gemaak.

Die konferensie was daarop gemik om die beplande aankoms van Li Zhanshu, voorsitter van die National People’s Congress van die Republiek van China, en sy afgevaardigdes tydens ʼn drie dae lange besoek aan die land te verwelkom.

Op ʼn vraag of die skenking gegrond is op bewerings dat sommige Chinese inwoners bydra tot stropery en ander onwettige aktiwiteite in Namibië, kon Katjavivi nie kommentaar lewer nie.

“Jou raaiskoot is so goed soos myne. Ongeag die rede vir die skenking, dit is in goeie trou gedoen,” het Katjavivi gesê.

In een van vele voorvalle in 2016 is ʼn Chinese inwoner in Suid-Afrika in hegtenis geneem met 18 renosterhorings wat vermoedelik in Namibië gestroop is. Die horings het ʼn geskatte waarde van 6,6 miljoen Namibiese dollar.

“Die goeie nuus is dat die Chinese regering positief reageer en bereid is om stropery te bekamp,” het Katjavivi bygevoeg.

Li word Woensdag in Namibië verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tania Heyns ·

Dagsê Anton

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Elle ·

As daai vragmotors aan Suid-Afrika geskenk was,was dit sekerlik gebruik om horings en vleis (en wie weet wat nog),oor die grens te smokkel iewers heen.

Andre C ·

China gee nie net weg nie hulle soek nog van Afrika se bronne !

Nel ·

Nou hoekom dink jy dit sal in Namibië nie ook die geval wees nie??? Katjavivi het maar bra ontwykend geantwoord.

Ian ·

Goeiedag Maroela Media,

Ek dink die 3de laaste papragraaf moet lees “6.6 miljoen Namibiese” en nie net “6.6 Namibiese” .

Baie dankie.

LF ·

Ek sou daai trokke omgekeer het en mooi gesoek het vir sateliet opsporing stelsel. Hulle sal in China sit en ons renosters van daar af opspoor met hulle gedoneerde trokke….

Jenny Thom ·

Siestog Maroela, julle kan net nie jul proeflees-lesers ontwyk nie, kan julle? Dit blyk soms dat al wat ‘n berig is deurgaans deur baie siniese lesers met ‘n vergrootglas nagegaan word. Maggies, kan ek tog maar net sê baie dankie vir jul uitstekende diens! Dit is waarlik onmoontlik om al jul lesers tevrede te stel. Ek is aan die anderkant ‘n baie tevrede “kliënt”
Geseende dag vir jul span

Lizl ·

Ek vertrou nie die Chinese nie… daar moet bybedoelings wees met dit

PLP ·

Aan al die mense wat negatiewe kommentaar lewer. Wees tog n slag positief. Iemand is darm bereid om iets te doen. Hel hou tog op om oor alles negatief te wees en in elke mens of land n fout te soek. Wat het julle al gedoen om die stropery te bekamp.

Adri ·

Is 4X4 (=12) nou ‘n erkende term om ‘n viertrek (4-trek) voertuig mee te beskryf?

Sune van Heerden ·

Dagsê Adri

Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls 2017 aanvaar vierwiel, of vierwielaangedrewe voertuig, of viertrek, of vier-by-vier, of 4×4 om na dié voertuie te verwys.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.