Restourasie van Notre Dame vorder stadig

Werkers het in 2020 begin om die steierwerk wat tydens die brand in die slag gebly het uit die Notre Dame-katedraal te verwyder. Soveel as 200 ton staal moes verwyder word. (Foto: Thibault Camus, AP)

Op die aand van 15 April 2019 het Frankryk en die res van die wêreld toegekyk hoe vlamme die Notre Dame-katedraal in Parys verswelg, vreesbevange dat dié erfenisbaken vir altyd vir die mensdom verlore sou wees.

Die brandweer het egter verseker dat die groot Middeleeuse gebou die nag oorleef, ondanks die kloktoring wat meegegee het en die grootste deel van die dak wat vernietig is.

Die pad na volle restourasie is egter lank en moeisaam en dus sal die gebou na verwagting eers in April 2024, vyf jaar ná die brand, weer tot sy volle glorie herstel wees.

Die oorsaak van die brand is steeds nie vasgestel nie, hoewel ondersoekers tot dusver geen vuilspel vermoed nie. Daar word hoofsaaklik gefokus op alternatiewe moontlikhede, soos ʼn elektriese kortsluiting en selfs ʼn smeulende sigaretstompie.

Minstens twee televisiedramareekse en een vollengterolprent sal binnekort uitgereik word oor die drama wat daardie nag in Parys afgespeel het, en die stryd om die 850 jaar oue gebou te red wat vir altyd in mense se geheue ingeëts is.

Pres. Emmanuel Macron het in 2019 kort ná die brand die vyfjaarteiken vir die restourasie van die gebou gestel, wat beteken die katedraal sou weer besoek kon word wanneer Parys die Olimpiese Spele in die somer van 2024 aanbied.

“Ons is op dreef om die katedraal in 2024 weer te heropen vir aanbidding. Daar is nog baie werk,” het Jean-Louis Georgelin, ʼn voormalige generaal wat deur Macron gekies is om die restourasieproses te lei, verlede maand gesê.

Die werklike restourasiewerk het egter nog nie begin nie. Tot op hede is tyd hoofsaaklik bestee aan die beveiliging van die gebou, met 40 000 stukke steierwerk wat in die brand verkalk het wat onder meer noukeurig verwyder moes word.

Dit behoort teen die Franse somer afgehandel te wees sodat volle restourasiewerk vroeg volgende jaar kan begin.

Die doel is om die eerste volle kerkdiens in die gerestoureerde katedraal op 15 April 2024 te vier, ondanks vertragings wat deur die pandemie veroorsaak is en die lood wat gedurende die brand uit die gebou gesypel het.

‘Geen waarborge’

Vlamme en rook borrel uit die brandende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk (15 April 2019) (Foto: AP Photo/Diana Ayanna)

Die restourasieproses word gefinansier deur sowat $991 miljoen (sowat R15 miljard) wat ingesamel is deur nasionale en internasionale skenkingsveldtogte wat ná die brand van stapel gestuur is. Dit sal egter moontlik nie genoeg wees om die restourasieproses oor die eindstreep te druk nie.

Sowat $83 miljoen (sowat R1,2 miljard) het van die buiteland af ingekom en die helfte van die bedrag is deur die VSA geskenk.

Ongeveer 1 000 eikebome wat spesifiek uitgekies is, droog reeds uit om die toring te herbou. Macron wou glo die toring met ʼn meer moderne aanslag laat vervang, maar dit sal egter herbou word soos wat dit was.

In die binnekant van die katedraal is vandag slegs ʼn web van steierwerk, omring deur nette en seile, waar skrynwerkers, touwerkers, steierwerkers en hyskraanoperateurs rondskarrel.

Ondersoekers en honderde kenners wat die gebou wil beveilig en restoureer, ondersoek steeds die oorsaak van die brand. Onderhoude is oor ʼn bestek van twee maande met ongeveer 100 getuies gevoer.

Dié fase is nou voltooi en ʼn maande lange ontledingsproses van al die bewysstukke wat op die terrein bymekaargemaak is, sal eersdaags begin, het ʼn bron na aan die ondersoek aan AFP gesê.

Verskeie tekortkominge in die veiligheid van die katedraal, soos ʼn foutiewe alarmstelsel – wat kon beteken dat die brandweer die alarmsein te laat ontvang het – asook die elektriese stelsel van een van die hysbakke, is uitgewys.

“Soos wat dinge nou staan, is dit nie moontlik om met sekerheid te sê dat ons wel eendag sal kan vasstel wat die brand veroorsaak het nie,” het die anonieme bron gesê.

‘Gelukkige einde’

ʼn Krat hang in 2020 van ʼn hyskraan tydens restourasiewerk by die Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk. (Foto: Thibault Camus, AP)

Terwyl ondersoekers probeer sin maak van wat presies daardie aand gebeur het, het rolprentmakers begin werk aan dramatiese rekonstruksies van die gebeure.

Die stromingsreus Netflix berei tans ʼn ses-episode-minireeks voor wat in samewerking met die Paryse brandweer vervaardig sal word. Dit sal kyk na die uitwerking van die brand op verskillende mense oor die hele Frankryk.

ʼn Mededingende Engelse reeks sal ook na verwagting geskoei wees op die indiepte-ondersoek van die gebeure deur die New York Times.

Franse regisseur Jean-Jacques Annaud, wat The Name of the Rose gemaak het, het ook begin werk aan ʼn vollengterolprent oor die ramp wat in 2022 die lig sal sien.

“Die hoofkarakter, die ster, is die Notre Dame. Dit is asof ek die storie vertel van ʼn slagoffer wat doodgaan en die dokters daag nie op nie. Dankie tog, daar is ʼn gelukkige einde,” het Annaud aan AFP gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.