Reusagtige ysvulkane op Pluto geïdentifiseer

Dié foto wys Pluto se ysvulkaanstreek. Die oppervlak en atmosferiese wasigheid van Pluto word in grysskaal aangedui met ʼn kunstenaarsvoorstelling van vorige vulkaniese prosesse in blou (Foto: Isacc Herera and Kelsi Singer/Nasa/Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory/Southwest Research Institute/AFP) (29 Maart 2022)

Vreemde bulterige terrein op Pluto, anders as enigiets wat tevore in die sonnestelsel opgemerk is, dui daarop dat ysvulkane redelik onlangs aktief was op die dwergplaneet, het wetenskaplikes Dinsdag gesê.

Die waarneming, deur die bestudering van foto’s wat deur Nasa se New Horizons-ruimtetuig geneem is, dui daarop dat Pluto se kern veel later warmer was as wat vroeër vermoed is, aldus ʼn nuwe studie in die Nature Communications-joernaal.

Eerder as om lawa in die lug in te skiet, sypel ʼn “dikker, yswater-mengsel of selfs ʼn soliede vloei soos gletsers”, uit ysvulkane, sê Kelsi Singer, outeur van die studie en planetêre wetenskaplike by Colorado se Southwest-navorsingsinstituut.

Daar is vroeër vermoed dat ysvulkane op verskeie koue mane in die sonnestelsel voorkom, maar Pluto sʼn “lyk anders as enigiets wat ons tevore gesien het,” het Singer aan AFP gesê. “Die kenmerke op Pluto is die enigste oop veld van reusagtige ysvulkane en dit het ʼn unieke tekstuur van golwende terrein.”

Singer sê dit is moeilik om te bepaal presies wanneer die ysvulkane gevorm is, “maar ons vermoed dit kan so jonk wees as ʼn paar honderd miljoen jaar of selfs jonger”.

Anders as die grootste deel van Pluto het die streek nie impakkraters nie, “en dit beteken mens kan nie die moontlikheid uitsluit dat dit selfs vandag nog besig is om te vorm nie”.

Lynnae Quick, ʼn planetêre wetenskaplike by Nasa se Goddard Space Flight Centre, spesialiseer in ysvulkane. Sy sê die bevindings is “uiters betekenisvol”.

“Dit dui daarop dat ʼn klein liggaam soos Pluto, wat baie lank gelede meeste van sy interne hitte verloor het, in staat was om genoeg energie te behou om wydverspreide geologiese aktiwiteit te fasiliteer,” het sy aan AFP gesê. “Hierdie bevindings beteken dat ons die moontlikheid vir die instandhouding van vloeibare water op klein, ysige wêrelde wat ver van die Son geleë is, te herevalueer.”

David Rothery, professor van planetêre geowetenskappe by The Open University, sê “ons weet nie wat die hitte veroorsaak wat genoeg sou wees om dié ysvulkane te laat uitbars nie”.

Volgens die studie is een van die strukture, die Wright Mons, sowat 5 km hoog en 150 km breed en het ongeveer dieselfde volume as een van Aarde se grootste vulkane – die Mauna Loa in Hawaii.

Rothery het aan AFP gesê hy het al die Mauna Loa besoek “en self beleef hoe groot dit is”. “Dit het my laat besef hoe groot Wright Mons is relatief tot Pluto – ʼn baie kleiner wêreld as ons eie.”

Die foto’s is geneem toe New Horizons, ʼn onbemande kernkrag-aangedrewe ruimtetuig omtrent so groot soos ʼn klein vleuelklavier, die eerste ruimtetuig geword het wat in 2015 verby Pluto gereis het.

Dit het die beste insigte nog verskaf in Pluto, wat vir lank as die verste planeet van die Son beskou is, voor dit in 2006 as ʼn dwergplaneet geherklassifiseer is.

“Ek is dol oor die idee dat ons nog soveel het om te leer oor die sonnestelsel,” het Singer bygevoeg. “Elke keer wanneer ons ʼn nuwe plek besoek, ontdek ons nuwe dinge wat ons nie voorspel het nie, soos reusagtige ysvulkane op Pluto.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Barry

Baie om te sê deur slegs na ñ paar fotos te kyk.

Misky

“so jonk as ‘n paar honderd miljoen jaar”…… sjoe, moeilik om werklik te begryp en ek voel skielik weer bloedjonk!!

Johanna

En so dink ons, ons weet alles van alles af.
Wees stil my SIEL GOD is Koning