Reuse beloning vir gesteelde ‘Wizard of Oz’-skoene

Die beroemde paar rooi skoene uit The Wizard of Oz (Foto: yourprops.com)

Die beroemde paar rooi skoene uit The Wizard of Oz (Foto: yourprops.com)

Baie mense is bereid om stywe bedrae te betaal vir ʼn mooi paar skoene, maar ʼn beloning van $1 miljoen word nou aangebied vir die gesteelde rooi skoene uit The Wizard of Oz.

Die beroemde blinkrooi skoene wat Judy Garland in die fliek gedra het, is reeds 10 jaar gelede uit ʼn museum in Minnesota, Amerika gesteel.

John Kelsch, uitvoerende direkteur van die Judy Garland-museum, het gesê die skenker is van Arizona en ʼn groot aanhanger van Garland, berig die New York Daily News. Die $1 miljoen word aangebied vir enigiemand wat die oortreder se naam kan verskaf en kan sê waar die skoene gevind kan word.

Dié paar ikoniese skoene is moontlik vandag al meer as $2 miljoen (ongeveer R25 miljoen) werd. Hoewel dit onbekend is hoeveel van die oorspronklike paar skoene gemaak is, word nog drie pare wêreldwyd vertoon, onder andere by die Smithsonian Instituut in Washington.

Die Amerikaanse musiekblyspel The Wizard of Oz het in 1939 vir die eerste keer sy debuut op die silwerskerm gemaak met Garland in die hoofrol as Dorothy Gale. Die fliek is gebaseer op L. Frank Baum se roman, The Wonderful Wizard of Oz (1899). Die kleur van die skoene was oorspronklik silwer in die boek, maar is na rooi verander om voordeel te trek uit die nuwe kunskleurproses wat daardie jare tydens die maak van rolprente gebruik is.

In die rolprent moet Dorothy haar weg huis toe vind saam met haar geliefde hondjie, Toto, nadat die plaashuis waar sy woon, deur ʼn tornado weggeruk en in “The Land of Oz” beland. Sy ontmoet interessante karakters langs die pad soos ʼn voëlverskrikker wat ʼn brein soek, ʼn blikmannetjie wat ʼn hart soek en ʼn leeu wat op soek is na dapperheid. Sy kom ook Glinda, die Goeie Heks van die Noorde teë. Glinda sê vir Dorothy dat sy kan terugkeer huis toe as sy, met die mooi rooi skoentjies, haar hakke drie keer teen mekaar sal stamp die frase “there is no place like home” herhaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.