Reuse naskok ná groot Chileense aardbewing

'n Skermskoot uit die video van die Chili-aardbewing . Die video volg onderaan die berig.

‘n Skermskoot van ‘n video van die eerste Chili-aardbewing .

‘n Naskok van 7,6 op die momentmagnitudeskaal het in Noord-Chili voorgekom waar ‘n aardbewing van M8,2 en die tsunami wat dit veroorsaak het, vroeër die week dood en verwoesting gesaai het.

Anders as die grote was hierdie een aan land, net 19 km van Iquique af, maar sy episentrum was 40 km onder die oppervlak wat in ‘n mate skade sou demp. ‘n Tsunami van ‘n meter hoog is deur die naskok veroorsaak, en Chili het na berig word sy ganse kusgebied ontruim.

Hierdie naskok is die tweede sterkste aardbewing vanjaar in die wêreld.

Wetenskaplike het na die groot aardbewing daarop gewys dat daar nie genoeg energie vrygestel is om die opgeboude spanning te verlig nie, en gesê dat ‘n selfs nog groter aardbewing kon volg.

Die grote het, afgesien van die naskok van M7,6, ook ‘n rits sterk naskokke tot gevolg gehad, waarvan drie reeds M6,2 of sterker gemeet het, waaronder die jongste skok wat M6,2 gemeet het.

Nota: ‘n Leser het gevra wat die verskil tussen die momentmagnitudeskaal en die Richterskaal is. Daar is verskeie skale wat gebruik word om aardbewings te meet. Beide die momentmagnitudeskaal en Richterskaal is logaritmiese skale, wat beteken dat ‘n aardbewing van 7, tien keer sterker is as een van 6. Die twee skale meet verskillende aspekte, en dit is dus moeilik om die een lesing na die ander skaal om te reken.

Die momentmagnitudeskaal is die jonger een, en is deur die Amerikaanse Geologiese Opnamediens (USGS) ontwerp om aardbewings te meet wat met verskuiwingsvlakke verband hou, waar die Richterskaal se gebreke te groot is. Omdat die USGS aardbewings wêreldwyd meet, en byna alle groot aardewings langs verskuiwingsvlakke voorkom, is dit die eenheid wat normaalweg as skaal gebruik word.

Individuele lande, waaronder Suid-Afrika, gebruik egter ander skale. Suid-Afrika gebruik ‘n aangepaste Richterskaal, wat ook weer hersien word. Suid-Afrika het nie verskuiwingsvlakke van dieselfde orde as die VSA nie. Suid-Afrikaanse akademici gebruik egter in die reël ook eerder die momentmagnitudeskaal. Dit gebeur dikwels dat die media in lande wat nog die Richterskaal gebruik, doodeenvoudig, maar verkeerdelik, die momentmagnitudeskaal as Richterskaallesings aanbied. Dit gebeur ook gereeld in Suid-Afrika, terwyl die Nederlandse koerant, Trouw, dit konsekwent doen. Belgiese koerante dui dit egter reg aan.

Lees ook:
Chili-aardbewing: Groter een volg dalk
Video’s: Chili-aardbewing nog die sterkste vanjaar
Chili-aardbewing: Tsoenami-waarskuwing; gevangenes ontsnap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.