Reuse-oorwinning vir regse party in Nederland

Geert Wilders (Foto: REMKO DE WAAL/ANP MAG/ANP via AFP)

Kiesers in Nederland het gister wraak geneem in ʼn verkiesing waarvan die uitslag oor die volgende paar dae skokgolwe deur die hele Europa gaan stuur. Die regse, anti-immigrasie Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders het gemaklik eerste geëindig deur 37 setels in die Tweede Kamer, die Nederlandse laerhuis, op hom te verenig. Dit maak die PVV gemaklik die grootste party en gee Wilders die geleentheid om ʼn koalisieregering te probeer vorm.

Die afgelope weke se verkiesingsveldtog is veral gedomineer deur die vraag oor immigrasie. Nederland het verlede jaar die aankoms van byna ʼn halfmiljoen immigrante ervaar, wat nie net enorme druk op behuising en vervoer veroorsaak nie, maar ook die sosiale samehang in Nederland beïnvloed. Die meeste immigrante in Nederland is uit die Midde-Ooste en die noorde van Afrika afkomstig en sowat twee miljoen van Nederland se 17 miljoen inwoners het tans ʼn immigrante agtergrond. Die PVV het tydens die veldtog ʼn tydelike beëindiging van immigrasie voorgestel.

Die verkiesingsuitslag is ʼn groot verleentheid vir die uittredende Nederlandse premier Mark Rutte. Rutte het die afgelope 13 jaar vier verskillende koalisieregerings in Nederland gelei. Dit het hom die langsdienende Nederlandse premier van alle tye gemaak. Tog het sy gewildheid die afgelope tyd skerp afgeneem. Al vier partye wat sedert 2021 deel van Rutte se koalisieregering was, het groot steun verloor.

Rutte se liberale Volksparty voor Vrijheid en Demokratie (VVD) het van 34 setels tot 24 teruggesak. Die progressief-linkse D66 wat in 2021 met 24 setels tweede geëindig het, het gister slegs nege setels behou. Die sentrumregse Christen-Democratisch Appèl (CDA), ʼn party wat so onlangs soos 20 jaar gelede nog meer as 50 setels in verkiesings gewen het, het van 15 setels tot slegs vyf teruggesak – dié party se swakste vertoning ooit. Die vierde party van die koalisieregering, die sentrumlinkse ChristenUnie, het ook van vyf tot drie setels gekrimp.

Naas die PVV was die groot wenner van die verkiesing die nuwe linkse samewerking tussen Groenlinks en die Partij voor de Arbeid (PvdA). Dié twee partye het besluit om as een party saam deel te neem en saam het hulle setels van 17 tot 25 verhoog. Dit was weens ʼn konsolidasie van linkse stemme met veral D66 en die twee ekstreem linkse partye, die Socialistische Partij (voormalige kommuniste) en die Partij voor de Dieren (PvdD) wat baie kiesers aan die nuwe linkse groepering afgestaan het.

Die ander groot wenner van die verkiesing was die nuutgestigte Nieuw Sociaal Contract (NSC) van die voormalige CDA-parlementslid Pieter Omtzigt. NSC was nog so onlangs as ʼn week gelede die grootste party in peilings, maar Omtzigt se skerp verwerping van meer regse beleidsvoorstelle het baie regse en konserwatiewe kiesers in die laaste dag of twee voor die verkiesing na die PVV gestuur.

Die sentrumregse BoerBurgerBeweging (BBB) wat kort voor die verkiesing in 2021 gestig is, en toe een setel kon wen, het slegs sewe setels in gister se verkiesing ingepalm. Tydens die provinsiale verkiesing in Maart vanjaar was BBB die grootste party, maar die party het eers steun aan NSC en toe uiteindelik ook aan die PVV afgestaan. Die Staatkundig Gereformeerde Partij (SGP), ʼn konserwatiewe Protestantse party, wat nog altyd ʼn groot ondersteuner van die Afrikaner se belange was, het sy drie setels behou.

Die meeste ander kleiner partye, soos die regse Forum voor Demokratie (FvD), die links-progressiewe Volt, die konserwatiewe JA21 en die party vir bejaardes, 50Plus, het setels verloor soos wat kiesers se steun in die laaste dag of twee binne die vier of vyf grootste partye gekonsolideer is.

Kiesers in Nederland het ʼn duidelike mandaat vir PVV en Wilders gegee om ’n regering te probeer vorm. Die maklikste opsie sal ʼn koalisie met die VVD en NSC wees. Voor die verkiesing was die NSC en Omtzigt egter uitgesproke teen samewerking met die PVV, terwyl die VVD slegs so ʼn opsie sou oorweeg indien Wilders nie premier word nie. Of die uitslag hulle houding sal verander, sal in die volgende paar dae gesien word.

Daar word egter ook in Nederland bespiegel oor die moontlikheid van ʼn koalisie wat die PVV, ten spyte van die party se reusesukses, uitsluit. Dit sal waarskynlik ʼn koalisie bestaande uit GL/PvdA, VVD, NSC en D66 (net-net meer as 50% van setels) beteken. So ʼn koalisie sal uiters omstrede wees omdat dit die meer as 2,5 miljoen kiesers wat PVV gestem het, totaal uit die regering sal sluit. Dit mag weke, selfs maande neem voordat ʼn nuwe regering in Nederland gevorm word.

Intussen is dit duidelik dat gister se verkiesing in Nederland ʼn voorloper tot soortgelyke verkiesingsuitslae in ander Europese lande kan wees. Volgende jaar gaan kiesers in België en Oostenryk na die stembus en in albei lande loop regse partye wat soortgelyke standpunte as die PVV huldig, in peilings voor. Ook die hele Europese parlement moet volgende jaar in Junie herkies word en daar word ook ʼn groot verskuiwing na regs verwag.

Kiesers in Nederland het gister teen massa-immigrasie gestem. Hulle het teen oordrewe klimaatmaatreëls, soos die vermindering van boere en die oprigting van duisende windmeulens gestem. Hulle het teen groter Europese integrasie en ten gunste van groter soewereiniteit gestem. Hulle het vir die behoud die unieke Nederlandse kultuur en identiteit gestem. Die vraag is nou of ʼn koalisieregering saamgestel kan word wat aan die eise van ʼn meerderheid van Nederlandse kiesers sal voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Treurwilger ·

Dus is daar nog ‘n sprankie hoop vir die Nederlandse kultuur en karakter.
Die tyd sal leer of Geert Wilders op dieselfde wyse as ander meer behoudende/konserwatiewe wêreldleiers getreiter gaan word deur linkses en die tradisionele massa-media.
Persoonlik raak ek nie meer opgewonde oor Europese beleidsrigtings nie, glo dis reeds te laat.

groenboer ·

Ek dink dieselfde ding: mens sal maar moet sien of hulle betyds wakker geskrik het.

Vrijburger ·

En Milei in Argentinie, net dalk is die pendulum stadig besig om te draai.

Elmarie ·

Ek dink die aankoms van ‘n halfmiljoen verlede jaar is maklik verdubbel of op pad om verdubbel te word, hulle is mos haastig met kinders maak. Jip, hul sit met ‘n groot probleem, want die klomp is mos klaar daar

Republikein in die Wes Kaap ·

Dalk tyd vir die VF Plus om ook ‘n eensaakparty te word wat Afrikaners belange openlik bevorder. Tans is hulle orals betrokke waar hulle almal se belange wil bevorder.

houopkruip ·

….. huh …. ? Die VF+ bevorder primer die Afrikaner se belange.

Republikein in die Wes Kaap ·

O regtig, maar hulle sê dit nie openlik nie. Hulle praat meer oor ander sake as Afrikaners se issues. Klink meer soos DA Lite vir my. Sekere burgerregte organisasies vul nou daai gaping en dra meer gewig.

Gaitsigubib ·

Ek hoop nie hy maak so gemors van alles soos wat Borris Johnson gedoen het vir Britanje nie. Laasgenoemde het goed begin maar die implikasies van sy eie besluite en druk van globaliste het hom oorweldig. As mens nie optree uit diep oortuiging en standvastige beginsels nie kan jy nie in die beste belang van jou land optree nie. Dit wat mense so afsit van Trump is juis die een faktor wat van hom die beste keuse maak. Hy swig net dood eenvoudig nie onder die druk nie en maak dus nie toegewings nie.

Elize ·

Ek geniet die politiek! Europa is besig om weer regs te draai. Ek neem hulle nie kwalik nie. Jy werk so hard in jou land om dit op te bou en in Afrika en die Ooste raak die bevolkings so groot dat hulle padgee en jou land kom inpalm!!

Michiel ·

Die onderliggend oorsaak van immigrasie is Amerikaanse ‘demokartiseringsprojekte’.
Na mense ‘huise kapot, familie kapot, lewe kapot.. vlug die mense nie na Amerika.. nee, hulle kom hierheen na Nederland!

Cherokee ·

Ek wonder steeds, as die Suid Afrikaner besluit om tasse te pak, waarheen dit sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.