Reuse-regsrekening staar Chamisa in die gesig

Nelson Chamisa (Foto: AP Photo Jerome Delay)

Nelson Chamisa, leier van die MDC Alliansie-opposisieparty in Zimbabwe, sal glo moet pa staan vir ʼn rekening van sowat R42 miljoen ($3 miljoen) se regskostes om die uitslag van verlede maand se presidensiële verkiesing in die konstitusionele hof te betwis.

Maroela Media het vroeër berig Chamisa het Emmerson Mnangagwa se oorwinning van 30 Julie betwis, maar die konstitusionele hof het sy aansoek met koste van die hand gewys.

Dié allemintige bedrag kan selfs verder styg as Chamisa na ʼn hoër hof appelleer.

Chamisa se regspan is na berig word besig om ʼn petisie aan die The African Commission on Human and Peoples’ Rights (ACHPR) te rig. Die span wil die konstitusionele hof se besluit bevraagteken en voer aan dit maak inbreek op die universele menseregte van die mense van Zimbabwe.

Chamisa het gevolglik geweier om die besluit van die konstitusionele hof te aanvaar.

Chamisa voer aan dat die kiesers en mense van Zimbabwe se regte op onder meer vrye en regverdige verkiesings, die reg tot ʼn regverdige verhoor en die reg tot regsverteenwoordiging deur ʼn verteenwoordiger van jou keuse aangetas word onder die huidige regime.

Kinstone Mutambo, prokureur van Zimbabwe, het egter gesê selfs al is die ACHPR se bevinding anders as dié van die konstitusionele hof sal dit nie die hofbeslissing ter syde stel nie.

“Die ACHPR is ʼn kwasi-regsliggaam en dit maak aanbevelings, nie uitsprake nie. Dit is nie wetlik bindend nie. So dié stap deur die MDC sal ten beste sekere aanbevelings wat bruikbaar kan wees in die debat oor elektorale hervorming tot gevolg hê,” het Mutambo gesê.

Paul Mangwana, sekretaris van regsaangeleenthede by Zanu-PF, het gesê dié party se prokureurs bepaal nog die presiese bedrag wat aan hulle betaal moet word, maar dat dit in die omgewing van $3 miljoen sal wees. Dié bedrag sluit die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) se rekening uit.

Mangwana het verduidelik dat prokureurs hul rekeninge uitwerk volgens die aantal ure wat hulle aan sake bestee. Volgens hom moet die finale rekening deur die registrateur van die hof goedgekeur word.

“Die bedrag moet strook met die voorgeskrewe tariewe wat prokureurs vra. Die tariewe word goedgekeur deur die registrateur van die hof. Die bedrag sal ook die nodige belastingsprosesse ondergaan,” het Mangwana gesê.

Volgens hom kan Chamisa die risiko loop om sy persoonlike eiendom te verloor sou hy nie betaal nie aangesien sy bates moontlik dan opgeskryf kan word. “Dié wet is ingestel as teenvoeter teen mense wat die howe nader met sake sonder enige gronde.”

Daar is intussen ʼn skarefinansieringsrekening op GoFundMe oopgemaak waar lede van die publiek die MDC Alliansie kan bystaan met hul regskoste. Daar is reeds ongeveer R238 000 (£13 043) ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Who cares ·

Ag who cares. .. die wereld het staan en toekyk hoe ZANU PF ‘n land vernietig wat tans ‘n 94% werkloosheidsyfer het, hulle het gestaan en kyk hoe hulle alle wittes van hulle eiendom en plase ontneem .. niemand gee meer ‘n duit om vir Zimbabwe nie, of dit nou onder die MDC of Zanu PF is ZIM gaan nooit weer opstaan nie .. hy gaan nooit weer Rhodesie wees wat ‘n vooruitstrewende land met ‘n goeie ekonomie was nie .. SA is oppad ..

Callie ·

Jy is reg oor Zim. Kanse om op te staan is nul. Praat met die Zim mense wat in SA werk en jy hoor hoe seker is hulle die verkiesing was weer n bedrogspul

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.