Reuseboete vir British Airways ná data uitlek

Argieffoto. (Foto: Nick Morrish/British Airways)

ʼn Reuseboete van nagenoeg R3,2 miljard staar die lugredery British Airways (BA) in die gesig nadat die inligting van meer as 500 000 van sy kliënte verlede jaar van sy webwerf gesteel is.

Die kantoor van Brittanje se Inligtingkommissaris het die boete voorgestel vir wat hy genoem het swak veiligheidsmaatreëls by die redery. Die boete is sowat 1,5% van British Airways se jaarlikse omset.

BA het aangedui dat hy teen die boete, wat ingevolge Europese databeskermingsregulasies opgelê is, gaan appelleer. Die regulasies het verlede jaar in werking getree.

Die regulasies laat toe dat maatskappye met tot 4% van hulle omset beboet kan word wanneer data uitlek.

Die kuberaanval op BA het behels dat verkeer na die redery se webwerf na ʼn vals webwerf herlei is. Kliënte het op dié webwerf aangemeld en inligting soos hulle kredietkaartbesonderhede, reisinligting, asook hulle name en adresse ingevul. Die inligting is van daar ingesamel.

Inligtingskommissaris Elizabeth Denham het gesê mense se persoonlike inligting móét persoonlik bly.

“As ʼn organisasie versuim om dit teen verlies, skade of diefstal te beskerm, is dit meer as net ongerieflik. Dit is hoekom die wet duidelik is dat jy na persoonlike data moet omsien as jy daarmee vertrou word.”

BA se voorsitter en uitvoerende hoof, Alex Cruz, het gesê hy is verras en teleurgesteld deur die voorgestelde boete.

“British Airways het vinnig gereageer op die misdadige optrede om kliënte se data te steel. Ons het geen bewyse van bedrog of bedrieglike aktiwiteite op enige van die rekeninge wat met die diefstal verband hou, gevind nie.”

Willie Walsh, uitvoerende hoof van BA se moedermaatskappy IAG, het gesê BA gaan ʼn voorlegging oor die voorgestelde boete doen.

“Ons beoog om alle stappe te doen om die lugredery se posisie te verdedig, en dit sluit enige appèlaansoeke in.”

IAG se aandeelprys het 0,8% geval sedert die nuus oor die boete bekend gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.