Reuseskikking bereik jaar ná gebou ineenstort

Die Champlain Towers South-gebou in Surfside het op 24 Junie 2021 in die vroeë oggendure gedeeltelik ineengestort. (Foto: Chandan Khanna/AFP)

Oorlewendes en familielede van die 98 slagoffers wat verlede jaar dood is toe ʼn woonstelgebou in Miami in die VSA ineengestort het, het Woensdag ʼn skikking van $997 miljoen (byna R16 miljard) bereik.

Carlos Silva, ʼn prokureur, sê nog $100 miljoen (meer as R1,6 miljard) sal na verwagting ook vir slagoffers verhaal word.

Maroela Media het vroeër berig die 12-verdiepingwoonstelblok, die Champlain Towers South-gebou in Surfside naby Miami Beach, het op 24 Junie 2021 in die vroeë oggendure ineengestort. Meeste inwoners het nog geslaap.

Buiten ’n tiener wat gered is ure nadat die gebou ineengestort het, het soekspanne geen oorlewendes in die puin gevind nie. Die soektog na menslike oorskot het weke geduur. Die laaste liggaam is byna ʼn maand ná die voorval eers uitgeken.

Hoewel ʼn finale verslag oor die oorsaak van die ineenstorting nog nie uitgereik is nie, dui voorlopige bevindings daarop dat die struktuur van die gebou – wat in 1981 opgerig is – verouderd en vervalle was.

Die skikking, wat Woensdag in ’n Miami-distrikshof aangekondig is, besleg ’n groepsgeding teen verskeie verweerders, onder meer die ontwikkelaars van ’n gebou langs Champlain Towers South.

In die saak is beweer dat vibrasies van werk op die aangrensende perseel tot die woonstel se ineenstorting bygedra het. Harley Tropin, die eisers se prokureur wat die skikkingsooreenkoms in die hof voorgelê het, sê die skikking bring ʼn mate van verligting aan oorlewendes en familielede van slagoffers.

“Hoewel geen bedrag geld ooit genoeg sal wees om hulle te vergoed nie, hoop ons dat die afsluiting van die regshoofstuk van hierdie ramp aan die slagoffers ’n mate van vertroosting sal bring.”

Michael Hanzman, die Florida-regter wat die saak hanteer, het reeds verlede Maart ’n skikking van $83 miljoen goedgekeur. Dit het egter net die eienaars van woonstelle in die gebou vergoed en nie die families van die oorledenes nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Natuurlik is jy reg Kokerboom, maar geld bring wel woonstelle terug en vergoed vir finansiële skades wat gely is. Dit is dus nodig.

Perdeby ·

Kan ons nie die land dagvaar wat ons land laat ineenstort nie?? Dt kan nogal werk !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.