Reuseveldbrand woed in Pole

Brande by die Biebrza- nasionale park (Foto: Twitter)

Bosbrande rig dae lank al verwoesting aan in Pole se grootste nasionale park.

Ongeveer 6 000 hektaar van die Biebrza- nasionale park in die noordooste van Pole is tans in vlamme gehul met meer as 120 brandbestryders wat die brande probeer blus. Die brande woed sedert Sondag.

Die land se ministerie van omgewing het gesê die brande is vermoedelik deur boere veroorsaak wat onwettiglik gras gebrand het. Om sake te vererger ervaar Pole tans die ergste droogte in dekades.

Michal Wos, die minister van omgewing, het gesê brande breek jaarliks in die Biebrza- nasionale park uit hoewel die park homself jare laas in ʼn situasie soos dié bevind het. “Dit is baie ernstig. Die wind en die uitsonderlike droogte vanjaar maak dit baie moeilik om die vuur te blus,” het die minister in ’n verklaring gesê.

Andrzej Grygoruk, direkteur van die park, het gesê dit is nie moontlik dat die brande vanself kon ontstaan nie aangesien Pole nie nou in die middel van sy somer is wat gepaardgaan met versengende hitte of storms nie.

“Ek weet nie wat ek dit moet noem nie. Onnoselheid? Onverantwoordelikheid?” het Grygoruk gesê.

Janina Agnieszka Zach, ’n toergids in die park, het op haar beurt gesê dit is onmoontlik om die skade te bereken wat tans aan die park se natuurlewe aangerig word. “Dit is ’n tragedie. Dit kan nie beskryf word nie. Ons gaan moontlik die vure maande lank moet bestry,” het sy gesê.

Die Biebrza- nasionale park is naby die grens met Wit-Rusland geleë. Dit is ʼn laagliggende gebied bekend vir sy vleilande, ʼn ryk voëllewe, bewers en Europese elande.

Bronne: BBC, DW

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack ·

Nou wonder ek maar net wat sê die klimaatverandering aktiviste van all die CO2 en ander lugbesoedeling wat hier plaasvind en wie sal hulle daarvoor die skuld gee. Dink net aan die verwoestende brande wat ‘n tydtjie gelede in Australië gewoed het.

My simpatie aan mens dier en plant is Pole se natuur reservaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.