Rob breek by mariene bioloog se huis in

Die rob loer vanuit die Ross-gesin se huis. (Foto: Twitter)

Van al die huise vir ’n rob om by in te breek, het ’n jong rob in Nieu-Seeland vandeesweek die huis van ’n mariene bioloog gekies. Dié was egter tot sy spyt nie tuis ten tyde van die inbraak nie. Sy vrou was wel en groot was haar verbasing toe sy dié ongenooide gas in hul huis in Mt. Maunganui betrap.

Jenn Ross was Woensdag vroegoggend by die gimnasium toe ’n rob vermoedelik die gesin se kat Coco agternagesit en deur twee katdeurtjies toegang tot die gesin se huis sowat 150 m van die see verkry het.

Die jong rob het dié oggend vermoedelik ’n uur lank in die huis gekuier en selfs ’n draai op die gesin se rusbank én in die gesin se gastekamer gemaak voordat hy na buite is. Die Nieu-Seelandse departement van bewaring het die rob later kom haal en terug see toe geneem.

Ross se man, ’n mariene bioloog, was ongelukkig nie tuis om die inbreker te konfronteer nie.

“Die groot grap is dat dit waarskynlik die een gesinsnoodgeval is waar dit nuttig sou wees om ’n mariene bioloog daar te hê, en ek was nie daar nie,” vertel Phil Ross, ’n mariene bioloog verbonde aan die Universiteit van Waikato.

Die rob – wat intussen Oscar gedoop is – het verbasend genoeg nie die huis bemors nie, maar wel die kat Coco die skrik op die lyf gejaag.

Phil sê dit is nie ongewoon om jong robbe hierdie tyd van die jaar in die omgewing te sien rondloop nie nadat hulle van hul ma’s gespeen is.

“Ek dink, soos alle tieners, neem hulle nie noodwendig sinvolle besluite nie,” grap Phil.

Bronne: NZ Herald, BBC, The Guardian,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jixy ·

Oscar sit ewe kordaat dat die foto geneem word.
Lyk kompleet of hy trots is op sy gedrag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Oscar moet net wegbly van Schweizer-Reneke…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.