Robin Williams pleeg glo selfmoord

Robin Williams Foto: nowyouknowthis.com

Robin Williams Foto: nowyouknowthis.com

Die Oscar-bekroonde akteur en komediant Robin Williams het glo selfmoord gepleeg.

Die polisie in Marin County in Kalifornië, Amerika, het gesê die 63-jarige akteur is Maandag net voor 12:00 by sy huis in Tiburon, in die noorde van Kalifornië, aangetref. “Voorlopig lyk dit soos selfmoord weens versmoring,” lui die verklaring.

Mara Buxbaum, die akteur se agent, het gesê hy het die afgelope paar jaar aan “ernstige depressie” gely.

Williams se vrou, Susan Schneider, het die akteur, ʼn pa van drie kinders, se miljoene aanhangers gemaan om sy geniale vermoë om mense te laat lag, te onthou. “Ek het vanoggend my man en beste vriend verloor,” het Schneider gesê. “Die wêreld het een van sy mees geliefde kunstenaars en mooiste mense verloor.” Sy is Williams se derde vrou. Hulle is in 2011 getroud.

Williams sal veral onthou word vir sy rol in Good Morning Vietnam (1987), Dead Poets Sociaty (1989) en Good Will Hunting (1997). Hy het ʼn Oscar vir ʼn akteur in ʼn ondersteunende rol ontvang vir Good Will Hunting. Klik hier om ‘n volledige lys te sien.

Die webwerf Mashable het ‘n YouTube-video saamgestel van beste oomblikke uit Williams se loopbaan.
Tweets oor Robin Williams volg onderaan die video.
http://youtu.be/j1uWvvMsL5w


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Peter Says ·

Al dink jy, jy het alles in die lewe, beteken ook soms, jy het niks in die lewe nie. Tragies.

Marley ·

Geld en roem is tydelik. My hart gaan waarlik uit na depressie-lyers. Selfmoord kan ek nooit goed praat nie. Rus in vrede. Uitstekende akteur gewees.

Canned Phantom ·

Robin, ek hoop jy kan almal ook so laat lag waar jy nou is. Ek het jou nie persoonlik geken nie, maar jy was ‘n baie groot inspirasie oor hoe ek die lewe leer hanteer het. Rus sag ou grote en dankie.

MArlene ·

My hart gaan uit na die fam. Maar depressie is n sluipende siekte. Ek ly self daaraan. Rus sag Robin.

Tannie Dot ·

Ag nee. Ek was gek oor sy flieks. Kan dit amper nie glo nie. Mag die Here sy familie styf in Sy arms toevou.

veronica ·

Ag toggie! So ‘n jammerte! Wat n wonderlike akteur! Wens dit kon anders gewees het!! Hoop jy vind die rus waarna jy so na verlang het Robbin, bid vir berusting vir sy gesin. Depressie= die stille moordenaar!

Jolindy ·

Dead Poets Society, mense, met ‘n “e”
RIP Robin Williams

Leeutjie ·

Agter al sy humor en wye glimlag was daar baie pyn. Depressie is ‘n verskriklike siekte. Ek weet, ekself is ‘n lyer, maar gelukkig onder beheer!

Elizabeth ·

@Leeutjie en ander – ek bewonder mense wat aangaan ten spyte van hul siekte. Mense verstaan baie keer nie HOE erg dit party tref en dat hulle werklik op ‘n punt kom wat hulle net voel hulle KAN nie verder en dan selfdood pleeg. Dis nie vir ons om sulkes te oordeel oor hul daad nie; ‘n intelligente persoon soos wat hy was, was hy sekerlik bewus daarvan dat daar hulp, medikasie is maar tog kom hul op ‘n punt wat verby die redelike is en hul dink beslis nie reguit op daardie oomblik en sien slegs selfdood as die ENIGSTE uitweg. Sterkte en my innige gebede aan alle depressielyers! Mag Robin nou die rus vind wat hy in hierdie lewe nie kon kry nie…

Leeutjie ·

Elizabeth dankie! As jy voel dat ‘n oorsese vakansie jou nie eers gaan gelukkig maak nie, of ‘n nuwe rok of skoene of ‘n lekker kuier en jy wil nie jou kop onder die komberse uithaal nie…..gaan soek hulp! Sommige mense drink en gebruik pynpille…. gaan soek hulp! Depressie steek ook sy kop uit na ‘n geliefde se dood…. gaan soek hulp! Selfmoord is nie ‘n opsie nie!!! As ek dan ‘n pilletjie moet drink vir die res van my lewe om hierdie siekte te beveg, dan doen ek dit! Dis nie net jy wat ly nie, jou geliefdes ly saam met jou!

Johann Roux ·

Leeutjie en Elizabeth.

Baie dankie vir julle waardevolle en insiggewende insette, so leersaam dat dit onthou sal word. Dankie vir die deel, dit word opreg waardeer.

Gesonde en ‘n geseënde dag.

Groete.

Johann.

Elfie ·

Mens verstaan dat daar gesê word mens moet hulp soek. Ongelukkig kom mense wat selfdood pleeg juis op ‘n plek/oomblik wat hul “glo” niemand kan help nie. Ek stem saam dat daar hulp is maar die wat hierdie daad pleeg verstaan dit op daardie spesifieke oomblik nie/hul brein aanvaar dit nie… Ons weet glad nie wat daardie “trigger” op daardie spesifieke oomblik is nie, die wat dit as enigste uitweg gesien het kan ons nie vertel want hulle is nie meer hier nie. Dis baie meer ingewikkeld as wat mens dink. Sterkte vir die familie van Robin

Van ·

wat ‘n erge verlies. dis ironies om te hoor hyt selfmoord gepleeg as jy sy fliek “what dreams may come” gekyk het. Dis altyd die snaakse grappige mense wat die ergste pyn het…..

Elizabeth ·

@Van. Dis hoe dit is, mense met die meeste pyn skuil gewoonlik agter die masker van ‘n nar/grapmaker. Ons weet nie wat in so een se hart en denke aangaan nie. Dis wat dit so tragies maak. Mense is geneig om na so iets te sê maar hy/sy het dan so gelukkig gelyk/altyd gelag/grappies gemaak….

Hennie Louw ·

Wat my die meeste pla is dat ‘n Amerikaanse akteur se dood, hier ter plaatse, groter ophef kry as die van die man en vrou, wat so ‘n dag of twee gelede, vermoor gevind is. Sovêr ek weet, was daar geen melding hiervan op TV nuus gemaak nie. Hierdie akteur se dood was amper hoofnuus op ons TV kanale. Wys net hoe ons deur die Amerikaanse filmbedryf gebreinspoel is. Kommersieël ‘beyond believe’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.