Roemenië: President spreek betogers toe; dodetal ná nagklub-brand styg

Foto: Catalin Georgescu/Facebook

Foto: Catalin Georgescu/Facebook

Klaus Iohannis, president van Roemenië, het Sondagaand ʼn beroep op betogers gedoen om hul ondersteuning te gee ten einde hervorming in die land teweeg te bring.

Duisende mense betoog al langer as ʼn week nadat ʼn brand in ʼn Boekarest-nagklub uitgebreek het. Minstens 45 mense is dood en 150 beseer tydens die brand.

Victor Ponta, eerste minister van Roemenië, en talle ander kabinetslede het vroeër hul bedankings aangekondig te midde van grootskaalse protesoptrede. Die 43-jarige Ponta word al maande lank daarvan beskuldig dat hy betrokke is by korrupsie, geldwassery en belastingontduiking.

Daar is al lank teen Ponta betoog, maar onlangs het een van die grootste demonstrasies met duisende mense in Boekarest plaasgevind. Die betogers het plakkate omhoog gehou met die woorde: “Korrupsie maak Roemenië dood”.

Volgens die betogers sou die brand se gevolge nie so erg gewees het as korrupsie nie so ʼn probleem was nie. Daar word beweer dat die eienaar van die klub smeergeld betaal het om nie aan al die brandnoodmaatreëls hoef te voldoen nie. Tydens die noodlottige nag het die lede van ʼn rockgroep tydens hul optrede vuurwerk afgevuur en dit het die brand veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Iohannis (ook Johannis) is afkomstig van die etniese minderheid in die land. Hy het alreeds heelwat vir Roemenië beteken.
Daar is dus hoop vir SA se minderhede om eendag . . . . ja, eendag . . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.