Roemenië verdeeld oor toekoms van beerbevolking

(Foto: Andrei Pungovschi/AFP)

Namate beeraanvalle ʼn groter probleem word in Roemenië, die tuiste van Europa se grootste bruinbeerbevolking, het dié land se regering toestemming gegee dat meer bere vanjaar van kant gemaak kan word. Dié toename is van 50% tot 220%.

Al hoe meer bere verlaat die woude op soek na kos – wat hulle dikwels by toeriste of in vullisdromme kry.

Motoriste in sentraal-Roemenië is onlangs sprakeloos gelaat toe hulle op ʼn bruinbeer op ʼn kronkelende bospad afgekom het. Dit het gelyk of die beer slaap of dood is, met sy kop op sy pote en ʼn paar papierservette langs hom.

Maar die beer het net ʼn blaaskans geneem nadat hy ʼn toebroodjie verorber het; een van vele wat toeriste na hom gegooi het sodat hulle ʼn foto van die beer kon neem.

Aan die een kant is boere en veewagters bekommerd oor die bere wat hul vee vang en aan die ander kant is bewaringsbewustes bekommerd oor die bere se welstand en daarteen gekant dat nog meer bere van kant gemaak word.

Diegene wat aandring dat meer bere van kant gemaak moet word, meen die bere is ʼn bedreiging vir mense en beweer dat hul getalle toeneem, met die departement van omgewingsake wat die beerbevolking op 8 000 skat.

Bewaringsbewustes voer aan dat die mens-beer-konflik beter bestuur moet word eerder as om die diere dood te maak.

Kenners is ook bekommerd dat verouderde, onakkurate metodes dalk gebruik word om die spesie te tel. Die diere word ingevolge ʼn EU-voorskrif beskerm om hul bewaring te verseker.

Die uitslae van ʼn sensus wat DNS gebruik om te verseker dat dieselfde rondloperbeer nie verskeie kere getel word nie, is nog nie beskikbaar nie.

Bere op straat ‘glad nie romanties’

(Foto: Andrei Pungovschi/AFP)

Verskeie plaaslike inwoners van die Karpate-bergreeks sê hulle is bekommerd oor die toename in die voorkoms van bere.

Volgens amptelike statistieke is 14 mense dood en 158 beseer in beeraanvalle tussen 2016 en 2021.

Tibor Fekete, ʼn herder wat 70 koeie in bergweiding in die omgewing van die Santa Anna-meer versorg, vra dat die bere geskiet word. Hy sê hulle het vanjaar drie van sy koeie gevang.

“Bere veroorsaak skade en stel ons lewens in gevaar,” sê die 40-jarige Fekete, wat gekla het oor die uitgawes daaraan verbonde om ses honde aan te hou om sy vee te beskerm.

ʼn Beer het verlede maand ʼn skoolterrein in Miercurea Ciuc, 30 km verder, binnegegaan en daar in ʼn boom geklouter. ʼn Intervensiespan het die dier doodgemaak eerder as om dit te verjaag en gesê hulle wil die veiligheid van die skool se sowat 1 700 leerders verseker.

Bere kan steeds aanval selfs nadat hulle met ʼn verdowingsmiddel geskiet word, sê Miercurea Ciuc se burgemeester, Attila Korodi. Hy sê meer bere is vanjaar in die dorp se strate verjaag as verlede jaar.

“Die daaglikse lewe met die bere in ons strate is glad nie ʼn romantiese prentjie nie,” sê Korodi.

Trofeejag van bere is sedert 2016 in Roemenië verbied en slegs “gespesialiseerde tegniese personeel” word toegelaat om die diere te skiet.

Wetgewers, onder leiding van Barna Tanczos, tot onlangs die minister van omgewingsake, het ʼn wetsontwerp ter tafel gelê om die doodmaak van byna 500 bere per jaar toe te laat.

Andersins sal bere uiteindelik in die laaglandgebiede rondswerf, soos die hoofstad Boekarest, beweer Tanczos.

Sy aansprake word betwis deur natuurbewaarders wat vrees dat die toenemende doodmaak van bere die deur vir trofeejag kan oopmaak. Hulle sê gevolglik word bere wat geen moeilikheid veroorsaak nie dan geskiet.

‘Beer-slim’ gemeenskap

Nie ver van Miercurea Ciuc nie wil die klein toeristebergdorp Baile Tusnad ʼn sogenaamde beerslim gemeenskap word.

“Ons moet verstaan bere sal nie uit hierdie gebied verdwyn nie. Maar as die beer nie veilig voel nie, bly hy nie in die dorp nie,” het die 36-jarige bioloog Istvan Imecs gesê.

Dié dorp is vol toeriste, buitelanders en Roemeniërs, wat bere graag voer al is dit onwettig.

Met advies van Imecs en bewaringsgroepe soos die Wêreldnatuurfonds (WWF), toets die dorp “beervriendelike” vullishouers en is daar reeds sowat 400 elektriese heinings rondom huise en vullisdromme aangebring.

Daar is ook ʼn app wat verduidelik wat om te doen om konflik met die diere te vermy.

Van 50 klagtes van skade aan eiendom wat in 2021 ingedien is, het die dorp in 2022 en 2023 geen klagtes gehad nie.

Laci, ’n inwoner wat net sy voornaam gegee het, het jare gelede al ʼn elektriese heining aangebring.

“Enigiemand in Tusnad wat sê hy is nie bang vir bere nie, is óf ʼn leuenaar óf dom,” het die 47-jarige Laci gesê.

“Ons het net gewoond geraak om saam met die bere in dieselfde dorp te woon. Daar is geen ander uitweg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.