Rolprentmagnaat dok $1 m. op vir borgtog op seksaanklagte

Harvey Weinstein Vrydag in die hof. Foto: AP

Harvey Weinstein (66), die bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger, is Vrydag ná maande se gegons in hegtenis geneem oor seksuele aanklagte wat Hollywood-sterre betrek.

Weinstein en sy regspan het homself Vrydagoggend by die polisiestasie in Tribeca in New York oorgegee, en dieselfde dag in die hof verskyn waar hy vrygelaat is op borgtog van $1 miljoen tot sy verhoor afskop. Hy het deur sy regspan aangedui hy gaan onskuldig pleit op al die aanklagte teen hom.

Weinstein word daarvan beskuldig dat hy verskeie vroue verkrag en ander seksueel geteister het. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy van die vroue betaal het om nié oor die seksuele teistering en aanranding te praat nie. Die presiese aanklagte is egter steeds onduidelik.

Talle bekendes het hul stemme by ʼn internasionale veldtog gevoeg nadat die Amerikaanse aktrise Alyssa Milano dié veldtog begin het.

Milano se veldtog volg op die bewerings dat Weinstein minstens drie vroue verkrag en tien ander seksueel geteister het. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy meer as agt vroue, onder wie Rose McGowan, Asia Argento en Lucia Evans (née Stoller), betaal het om nié oor die seksuele teistering en aanranding te praat nie. Talle ander vroue, onder wie bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie en Gwyneth Paltrow, het ná die bewerings ook hul stemme by die klagte gevoeg.

Die New Yorkse polisie het die vroue wat klagte teen Weinstein gelê het bedank dat hulle ter wille van geregtigheid bereid was om die saak te openbaar.

Dit is nog nie duidelik wanneer sy verhoor gaan begin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Faan ·

Hoop hulle stop hom in die tronk vir baie jare, gee net mans ‘n slegte naam. Bill Cosby se maatjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.