Rooikruis lê klagtes ná miljoene verdwyn

Die Rooikruis het kriminele klagte aanhangig gemaak teen ʼn aanlyn-fondsinsamelingsmaatskappy, het die humanitêre organisasie Vrydag in Genève, Switserland gesê terwyl ondersoekbeamptes die verdwyning van miljoene Switserse frank se donasies ondersoek.

Die International Federation of Red Cross and Red Crescent Societies (IFRC) het in ʼn verklaring gesê hy is een van verskeie niewinsgewende organisasies vir wie die maatskappy geld skuld.

Die maatskappy se naam kan nie bekend gemaak word nie, weens wetlike redes.

Die Rooikruis vermis 1.8 miljoen Switserse frank (R23,3 miljoen). Die Switserse vervolgingsgesag het Donderdag gesê hy vermoed “miljoene” is verkeerd aangewend.

Die raadsvoorsitter van die betrokke maatskappy is op 22 Desember in hegtenis geneem by ʼn lughawe in Zürich. Die maatskappy is in Switserland geregistreer, maar die hoofkantoor is in Ierland gebaseer. Geen verteenwoordiger vir die maatskappy was Vrydag beskikbaar nie.

Amnesty International, Dokters Sonder Grense, en die VN se Vlugtelinge-agentskap het na bewering met die maatskappy saamgewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.