Rot maak amok op reeds sukkelende lugdiens

ʼn Sri Lankan Airlines Airbus A330. (Foto: MI News / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Sri Lanka se reeds sukkelende nasionale lugredery moes verlede week een van sy vliegtuie drie dae lank hok – en dít oor ʼn rot.

Die knaagdier is Donderdag op die vliegtuig tydens ʼn vlug vanaf die Pakistanse stad Lahore opgemerk.

ʼn Gevolglike desperate soektog na die rot aan boord van ʼn Sri Lankan Airlines Airbus A330 het beteken die vliegtuig is drie dae lank op die aanloopbaan in Colombo geskut weens vrese dat die diertjie aan kritiekte komponente in die vliegtuig sou begin knaag.

Die rot is eindelik dood gevind.

ʼn Lugdiensbeampte het intussen bevestig dat die vliegtuig ná talle vertragings eindelik alle vlugte kon hervat. Die drie dae wat dit op die aanloopbaan gestaan het, het egter ʼn groot uitwerking op vlugtye gehad.

Dié staatsbeheerde lugredery, wat aan die einde van Maart ʼn verlies van meer as $1,8 miljard (sowat R34,6 miljard) aangeteken het, het drie ander vliegtuie (uit ʼn vloot van 23) wat al vir meer as ʼn jaar lank gehok is.

Die lugredery het egter geen buitelandse valuta om te betaal vir die verpligte opknapping van die vliegtuie se enjins nie.

Nimal Siripala de Silva, die land se minister van lugvaart, het aan verslaggewers gesê die dwalende rot kan moontlik “die paar beleggers” afskrik wat belangstel om die skuldbelaaide redery oor te neem.

Verskeie regerings van Sri Lanka probeer al jare lank van die sukkelende lugdiens ontslae te raak. Die redery is selfs in ʼn stadium vir ʼn enkele dollar (net minder as R20) te koop aangebied, maar niemand – behalwe dalk die rot – het ʼn aptyt vir die transaksie gehad nie.

Die Internasionale Monetêre Fonds, wat verlede jaar ʼn lening van $2,9 miljard wat oor vier jaar strek aan Sri Lanka toegestaan het, sê sulke staatsondernemings is ʼn swaar las op die nasionale begroting.

Sri Lankan Airlines was winsgewend totdat ’n bestuursooreenkoms met Emirates in 2008 geskrap is, ná ’n dispuut met destydse pres. Mahinda Rajapaksa.

Die lugdiens het destyds geweier om betaalde passasiers se sitplekke op te gee aan 35 lede van Rajapaksa se familie, wat van ʼn vakansie in Londen teruggekeer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lesly ·

As iemand wat al 45 jaar in die tegniese sy van lugrederye werk, jan ek bevestig dat knaagdiere ‘n groot risiko is. Dit het al met baie lugrederye gebeur en veroorsaak erge vertragings. Die vliegtuig kan nie vertrek voor daar bepaal is dat die muis of rot gevind en verwyder is nie. Ons het eendag ‘n massiewe rot gevind na vele waterlekke op die vliegtuig gedui het dat waterpype deurgebyt is. Kos was oorgenoeg vir die rot, maar water was ‘n skaarste. 2 dae later en vele man ure is die kalant opgespoor en het een van my kollegas hom met ‘n Leatherman se lem dood gesteek.

Ian ·

Wonder nou net of dit dieselfde ROT was wat ons bekende lugredery gebyt het.

JohanR ·

Ek het nie geweet die ANC en Pravin Gordhan is ook in Sri Lanka doening nie? Die ANC kan enigeiets in enige land vernietig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.